Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia lei nuwe generasie mediapraktisyns met jongste kwalifikasie op

Gepubliseer op: 26 November 2020

Die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia het op 25 November ʼn opwindende nuwe kwalifikasie, naamlik BA (Kommunikasie en Joernalistiek), tydens ʼn spoggeleentheid bekendgestel. Hierdie kwalifikasie sal vanaf 2021 voltyds in Afrikaans by die nuutingerigte kampus in Centurion aangebied word, en aansoeke vir dié graad is nog oop.

Omdat die media- en kommunikasiebedryf teen ʼn verstommende tempo verander, bied hierdie bedryf vele uitdagings – maar ook wonderlike geleenthede – vir studente wat in kommunikasie en joernalistiek afstudeer, sê dr. Alé Steyn, die programkoördineerder van BA (Kommunikasie en Joernalistiek).

Steyn noem dat daar ʼn groot verantwoordelikheid op hoëronderwysinstellings rus om studente op te lei wat vir die toekoms toegerus is, omdat ons nie meer jongmense kan aflewer wat slegs kennis en vaardighede het nie – studente gaan ʼn toekoms tegemoet waarin hulle aanpasbaar en innoverend moet wees.

Prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia, voeg by dat die instelling besonders trots is op die uitbreiding van die fakulteit met hierdie relevante kwalifikasie. “Hierdie graad is uniek geposisioneer sodat studente nie net as kommunikasiekundiges en joernaliste opgelei word nie, maar dat hulle karakter en insig, in lyn met Akademia se opvoedingsideaal, gevorm word.

Om te verseker dat hierdie nuwe program kan meeding met die bestes, het Akademia die program oor jare ontwikkel en by kundiges in die bedryf en akademici by instellings in Suid-Afrika én in die buiteland gaan aanklop. Die akademiese ontwikkelingspan het gaan kyk na wat ander uitnemende instellings in die buiteland doen en wat hulle programme van ander onderskei, en plaaslik op hierdie suksesse uitgebou. Boonop het Akademia ervare en knap kenners aangestel om in 2021 met die eerste groep studente te werk, en die instelling span saam met bedryfsvennote om te verseker dat studente toegerus is om suksesvolle loopbane te bou.

Sarina Frauenstein, immergewilde programaanbieder en omroeper by Pretoria FM, het as seremoniemeester by die bekendstellingsfunksie opgetree en die belang daarvan uitgelig om só ʼn kwalifikasie in jou moedertaal te voltooi. Sy het klem daarop gelê dat die vaslegging van konsepte of idees in jou moedertaal kan help om jouself in ʼn tweede of selfs ʼn derde taal te laat geld.

Die bekende mediapersoonlikheid Freek Robinson het joernaliste se betekenisvolle taak om objektiewe stories in ʼn moeilike wêreld te vertel uitgelig. Hy beskou die mediabedryf as ʼn dinamiese en samelewingsrelevante een. “Elke dag in hierdie bedryf is ʼn avontuur. Dit is seker die interessantste werk, met die grooste blootstelling van alle beroepe aan uiteenlopende mense, klasse en uitgangspunte.”

Studente wat hierdie driejaarkwalifikasie aan Akademia studeer, kan daarna uitsien om nie net in teorie in beide kommunikasie en joernalistiek verdiep te raak nie, maar ook baie praktiese ervaring op te doen in die vorm van internskappe, gaslesings, mentorskapprogramme en studentepublikasies.

Akademia beoog met hierdie kwalifikasie om studente met die nodige kennis, vaardighede en opvoeding toe te rus, sodat hulle eendag ʼn sinvolle en positiewe bydrae kan maak in die gemeenskappe waarin hulle hulself bevind. “Ons hoop dat die jongmense wat deur ons hande is die staatmakers, planmakers en verskilmakers van die toekoms sal wees,” sê Steyn.

Vir meer inligting oor die kwalifikasie, klik hier, e-pos navrae@akademia.ac.za of stuur ʼn WhatsApp na 0861 222 888.

Akademia het op 25 November ʼn opwindende nuwe kwalifikasie, naamlik BA (Kommunikasie en Joernalistiek), tydens ʼn spoggeleentheid bekendgestel.
Sarina Frauenstein (links), immergewilde programaanbieder en omroeper by Pretoria FM, het as seremoniemeester by die bekendstellingsfunksie opgetree. Dr. Alé Steyn (regs) is die programkoördineerder van Akademia se jongste kwalifikasie, BA (Kommunikasie en Joernalistiek).
Die bekende mediapersoonlikheid en joernalis Freek Robinson was een van die sprekers tydens die hierdie geleentheid.