Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Energie en kragvolhoubaarheid vir ons toekoms

Gepubliseer op: 26 November 2020

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan: Fakulteit Natuurwetenskappe

Die konsep van energie is ʼn integrale deel van ons daaglikse lewe. Buiten dat ons liggaamlike energie nodig het om te werk en speel, dien geestelike energie ook as inspirasie vir toekomsbeplanning. Ons het egter ook oor die eeue heen natuurlike energiebronne geskep om die lewe vir ons makliker te maak, soos byvoorbeeld elektrisiteit, of soos dit alombekend staan: krag.

Energie is daarom ʼn belangrike onderwerp vir die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia. Die fakulteit het derhalwe besluit om, in samewerking met Solidariteit, op 12 November 2020 ʼn gesprekseminaar met die tema: “ʼn Visie vir kragvolhoubaarheid in ons gemeenskappe” aan te bied. Die seminaar is deur die volgende werklikhede gemotiveer:

  • Sedert 1923 het Suid-Afrika se nasionale kragvoordiener (Eskom) ʼn indrukwekkende kragvoorsieningsnetwerk tot stand gebring wat uitstrek tot feitlik elke uithoek van Suid-Afrika.
  • As gevolg van ʼn snelgroeiende sosio-ekonomiese elektrisiteitvraag gaan Eskom egter gebuk onder geweldige druk, wat aanleiding gee tot sporadiese beurtkragskedules.
  • Suid-Afrikaanse gemeenskappe word daardeur genoodsaak om met nuwe oplossings vorendag te kom, teen die agtergrond van ʼn wêreldneiging na krag­desentralisasie.
  • Daarmee saam het tegnologiese innovasie aanleiding gegee tot die ontwikkeling van verskeie alternatiewe kragopwekking- en kragvoorsieningsmoontlikhede.

 

Buiten die feit dat die seminaar wye openbare belangstelling uitgelok het, is aanbiedings gelewer deur Suid-Afrika se leiers in die gebied van kragopwekking en kragvoorsiening. Jan Oberholzer (bedryfshoof van Eskom) het die seminaar igelei deur ʼn oorsig te gee van die geskiedenis, huidige status en toekoms van ons nasionale kragvoorsiener. Daarna het advokaat Albert Lamey (advokaat van die Pretoria-balie) die gehoor ingelig oor die juridiese kompleksiteit van ons kragnetwerke.

Moderne hernubare energiemoontlikhede is uitgelig deur twee kenners, naamlik Jaco Botha (uitvoerende hoof van Solareff en ook direkteur van GridCars) en prof. Wikus van Niekerk (dekaan: Fakulteit Ingenieurswese, Universiteit Stellenbosch). ʼn Indrukwekkende aanbieding oor die nuwe moontlikhede wat gebied word deur klein modulêre kernkragopwekkers, asook baanbrekersnavorsing hieroor in Suid-Afrika, is gelewer deur prof. Johan Slabber van die Universiteit van Pretoria.

Akademia het hierdie oplossingsgerigte gesprekseminaar aangebied as deel van ʼn groter inisiatief wat daarop gerig is om betrokke te raak by die nuutste navorsing en om ʼn toekomsvisie vir Suid-Afrika se kraguitdagings te help formuleer. Deur die seminaar is waardevolle kennis gedeel en is vooraanstaande netwerke gebou. Met laasgenoemde as basis, word daar reeds vir verskeie opvolgaksies in die toekoms beplan.

Indien jy die kragseminaar misgeloop het, voltooi hierdie vorm om toegang tot die video-opname te verkry.