Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Só vestig ons ʼn vernuwe Afrikaanse universiteitwese

Gepubliseer op: 25 November 2020

Suksesvolle kultuurgemeenskappe benodig gesonde, stabiele en florerende onderwys en beroepsopleiding. Daarom het Solidariteit destyds vanaf 2010 begin dink, droom en bou aan die idee van Akademia – om ʼn onafhanklike akademiese tuiste vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe daar te stel. Na twee jaar se beplanning en ontwikkeling ontvang dié instelling op 3 Januarie 2012 die nuus dat Akademia suksesvol as ʼn private hoëronderwysinstelling geregistreer is. Akademia laat nie op haar wag nie en verwelkom slegs twee maande later 42 studente oor vyf programme.

Gesien in die konteks van die tyd was hierdie ʼn versiende projek – openbare universiteite soos die Puk, Maties, Kovsies, en Tuks het op daardie stadium steeds Afrikaans as primêre onderrigtaal gebesig. Min het ons geweet dat universiteite sou wegskram van Afrikaans as onderrigtaal en dat Akademia juis ʼn selfs belangriker rol in die universiteitswese sou speel.

Hoekom die reusetaak aanpak om ʼn Afrikaanse universiteit te bou? Talle kenners en denkers het al aangevoer waarom gemeenskappe ʼn eie universiteit moet hê vir suksesvolle voortbestaan. Hierdie verskynsel kan nie self gebeur nie, en is dit ons verantwoordelikheid om as gemeenskap ʼn selfstandige universiteit wat in ons moedertaal bedryf word op die been te bring. Sodoende kan ons jongmense ongesteurde toegang tot wêreldgehalte opleiding in ʼn vriendelike en veilige omgewing ontvang.

Vandag is ons baie dankbaar dat Akademia reeds vanaf 2012 met klasse begin het. Nou, byna ʼn dekade oud, groei Akademia teen ʼn snelle pas en word die instelling se aanbod jaar na jaar groter en beter. Vanaf 2021 word twaalf kwalifikasies oor vier fakulteite in die nauurse onderrigleermodel aangebied. Hierdie model span die jongste onderrigleer- en kommunikasietegnologie in ter ondersteuning van studente, en is veral aantreklik vir werkendes wat wil studeer.

ʼn Bykomende oplossing word vir 2021 in die vooruitsig gestel. Studente sal vanaf volgende jaar voltyds in hulle moedertaaltaal kan klas draf op die nuutingerigte Centurion-kampus. Hier gaan hulle aan ʼn lewenskragtige studentelewe kan deelneem wat bydra tot die groei en ontwikkeling van hulle menswees.

Akademia se toekomsplanne is rooskleurig en sal daar in die toekoms ʼn omvattende residensiële kampus die lig sien. Hier sal 5 000 voorgraadse en 2 000 nagraadse studente op ʼn pragtige kampus in Pretoria kan studeer. Die ontwikkeling van kwalifikasies oor sewe fakulteite is tans in proses, met die uiteindelike doel om ʼn volledige programaanbod oor verskeie dissiplines aan te bied.

Akademia beoog nie om bloot die universiteitswese wat baie van ons en ons ouers geken het weer te laat herleef nie, maar om selfs nóg meer as dit te bereik. Ons voorsien ʼn universiteit wat nie net wêreldklas opleiding aan ons gemeenskap bied nie, maar ook die klassieke rol van die universiteitswese te vervul – om jongmense tot intellektuele, emosionele en lewensbeskoulike volwassenheid te bring. Akademia werk onophoudelik in geloof, hoop en liefde om dít vir ons gemeenskap tot stand te bring. Só vestig ons ʼn vernuwe Afrikaanse universiteitswese.