Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-planne goed op dreef vir gesonde studente-ervaring

Gepubliseer op: 25 November 2020

Dink maar net terug na die dae toe jy op universiteit was – middagetes by die kafeteria, die opwindende studentelewe waaraan jy kon deelneem en die onvergeetlike studentegees wat op kampus geheers het. Daar was dae waar jy in die biblioteek studeer het en omring was met die lieflike reuk van boeke. Jy het vry gevoel en was gereed om jou loopbaanreis af te skop. Hierdie is goeie herinneringe en ervarings wat vir altyd heers.

Die tyd het aangebreek vir Akademia om ʼn onvergeetlike studente-ervaring – soos toe jy studeer het (én selfs beter) – vir ons jeug te skep. Studente sal vanaf 2021 voltyds in hulle moedertaaltaal kan klas draf op die nuutingerigte Centurion-kampus. Hier gaan hulle aan ʼn lewenskragtige studentelewe kan deelneem wat bydra tot die groei en ontwikkeling van hulle menswees. Hoe lyk só studente-ervaring?

In die lig van Internasionale Studentedag wat wêreldwyd op 17 November gevier word, word ʼn blik geneem op studente se ervaring van wanneer hulle vir hulle eerste dag van wêreldklasopleiding op die Akademia-kampus aanmeld. Anders as die bestaande en suksesvolle nauurse model wat gebruik maak van gevorderde tegnologie, gaan hierdie studente fisies voor die dosent in die klas teenwoordig wees. Klasse op hierdie ingerigte en pragtige kampus is redelik klein, wat die ideale geleentheid bied om aktief in besprekings deel te kan neem en verseker dat elke student persoonlike akademiese aandag geniet. Boonop gaan hierdie studente baanbrekers wees wat talle eerstes gaan beleef en help skryf aan Akademia se geskiedenis en die Afrikaanse universiteitswese van die toekoms.

ʼn Belangrike komponent van die studente-ervaring is ʼn studentelewe, en dit maak ʼn groot deel uit van wat van ʼn studiereis onthou word. Akademia-personeel is hard aan die werk om ʼn vol program vir ʼn gesonde studentelewe te skep. Die stigting van onder andere verenigings en klubs, kulturele bedrywighede, en sport en sosiale aktiwiteite gaan vir hierdie aktiewe studentelewe op kampus sorg.

Pret sal beslis deel hiervan maak, maar nog belangriker is opvoeding en vorming van studente. Hierdie groot vormingsgebeurtenis sal in elke aspek van die studente-ervaring geweef word om te verseker dat afgeronde studente van die verhoog af stap tydens die promosieplegtigheid waar hulle ʼn kwalifikasie ontvang.

Vorming help studente om hulleself intellektueel en selfstandig te handhaaf en sodanig goeie besluite in ʼn komplekse arbeidswêreld te kan neem. Daarom is dit belangrik dat Akademia ʼn akademiese tuiste vestig waar hart en denke gevorm kan word, en studente ʼn betekenisvolle en vrye toekoms vir hulleself kan skep. Dít behels dat Akademia studente met uitstaande kennis en vaardighede oplei, sowel as hulle met wysheid en insig opvoed.

Akademia gaan ruimtes skep waar studente in ʼn veilige omgewing hulle idees met studente en dosente kan toets en in hierdie proses self tot beter insig en volwassenheid kan groei. Gesonde debattering en gespreksvoering sal plaasvind. Studente sal ook die geleentheid gebied word om interpersoonlike vaardighede deur middel van sosiale aktiwiteite op te skerp sodat hulle die werksplek met selfvertroue kan betree.

As jy betrokke wil raak en wil help bou aan ʼn gesonde studente-ervaring, stuur ʼn e-pos aan vriende@akademia.ac.za. Akademia hoor graag van jou.