Studieaansoeke vir 2025 is reeds oop

Search
Close this search box.

BA (Kommunikasie en Joernalistiek)

Die BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-graad is ’n gespesialiseerde program wat studente toerus met die teoretiese kennis en praktiese vaardighede om suksesvolle loopbane in die joernalistiek- en kommunikasiebedryf te volg. Studente word toegerus en uitgedaag om besluite te neem, krities oor sake te dink en vinnig aan te pas in ʼn dinamiese professionele omgewing wat teen ʼn snelle tempo verander. Hierdie program bied aan studente ʼn unieke geleentheid om nouverwante velde te verken. Die kurrikulum is intensief en interaktief, en studente kan na afloop van hulle studies die werkplek betree of by enige hoëronderwysinstelling aansoek doen om verder te spesialiseer in velde soos korporatiewe kommunikasie, bemarking, mediaskakeling of joernalistiek.

WAT KAN EK MET DIE BA (KOMMUNIKASIE EN JOERNALISTIEK) DOEN?

Die doel van die program is om studente in staat te stel om as multimediajoernaliste en kundige kommunikasiepraktisyns te funksioneer. Gedurende die drie jaar word studente blootgestel aan onder meer strategiese, organisasie- en bemarkingskommunikasie binne korporatiewe en nie­winsgewende omgewings. Studente verken ook die medialandskap in Suid-Afrika en die veranderende en uitdagende rol van joernalistiek. Daar word klem gelê op praktiese en navorsings­vaardighede soos digitale, visuele en mediageletterdheid, skryf- en redigeervaardighede, asook die ontwerp van drukmedia en webblaaie. Na afloop van die drie jaar sal studente ’n verskeidenheid kommunikasiefunksies in ’n organisasie kan bestuur, insluitende interne kommunikasie, krisiskommunikasie, bemarking, mediaskakeling, en webblaaie en sosialemediaplatforms. Studente sal ook in die media- en uitgewersbedryf kan werk as inhoudskeppers, teksredakteurs, bladuitlegkunstenaars of joernaliste.

WAT BEHELS DIE PROGRAM?

NKR-vlak 7

400 krediete

SAKO-nommer: 112543

ONDERRIGLEERMODEL: Voltydse kampusmodel

KWALIFISEER EK OM BA (KOMMUNIKASIE EN JOERNALISTIEK) TE STUDEER?

MODULES

Die module bied ʼn oorsig van die sleutelbeginsels en -teorieë in kommunikasiestudies en rus studente toe om die teorie toe te pas in verskeie kommunikasiekontekste en alledaagse situasies. Onder meer interpersoonlike kommunikasie, kleingroepkommunikasie en veral interkulturele kommunikasie word in hierdie module onder die loep geneem.

In hierdie module maak studente kennis met organisasiekommunikasie en die onderskeie kommunikasiefunksies, soos bemarking, media- en openbare skakeling, en advertensies. Ander temas wat in hierdie module ingesluit word, is organisasiekultuur en -identiteit, en etiese en professionele optrede in hierdie konteks. Die module lê in die tweede semester klem op die sleutelteorieë, -beginsels en -benaderings tot kommunikasie in ʼn ontwikkelingskonteks.

Die module bied aan studente ʼn oorsig van die geskiedenis, ontwikkeling en rol van massamedia in die samelewing. Ons bestudeer sleutelteorieë en -benaderings tot massamedia, soos agendastelling en nuusraming. In die tweede semester val die fokus op die ontwikkeling, rol en funksie van joernalistiek in die samelewing, met spesifieke verwysing na die Suid-Afrikaanse konteks. Ons besin oor die rol en verantwoordelikhede van die joernalis in ʼn digitale en globale wêreld en lê verder klem op die basiese beginsels en vaardighede in die joernalistiekbedryf. Uitsaaimedia (televisie en radio) kry veral aandag in hierdie module.

Hierdie inleidende skryfmodule rus studente toe om die basiese teorieë en beginsels van goeie skryfwerk en redigering vir druk- en uitsaaimedia toe te pas. Studente ontwikkel die praktiese vaardighede om gehalte-kopie in Afrikaans en Engels te lewer.

In hierdie module word studente toegerus met die skryf- en navorsingsvaardighede om in ʼn akademiese omgewing te funksioneer en hul studies met selfvertroue en integriteit te voltooi.

Keusemodule (kies een)

Hierdie inleiding kursus in filosofie – met beide ʼn historiese en sistemiese fokus – gaan in op hoe antieke samelewings en klassieke bronne van filosofie steeds van toepassings is op hedendaagse denkwyses en optrede. Daar word in hierdie module gekyk na van die mees prominente filosofiese vraagstukke, deur eerstens te kyk na vooraanstaande filosowe uit die Antieke, Grieks-Romeinse en Middeleeuse tydperke. Hierdeur word die dinamiese aard van filosofie as dissipline geïllustreer, en word die studente voorsien van die kennis om hulself verder in die studie van filosofie te verdiep.

Hierdie inleidende module in politiek fokus op die basis van politieke wetenskap deur studente te lei om konsepte, teorie, modelle, ideologieë en breë politieke strukture te verstaan en te begin toepas om sin te maak van spesifieke politieke gevalle. Konsepte en teorie – wat definisies van politiek, die staat, politieke stelsels en owerheidsvorme, partystelsels, kiesstelsels, die verdeling van magte en staatsvorme insluit – word ook toegepas op voorbeelde vanuit die Suid-Afrikaanse politiek.

Hierdie inleidende module in internasionale verhoudinge en internasionale politieke ekonomie gee ʼn breë oorsig van die verskeie komponente en akteurs in internasionale verhoudinge (wat ook as internasionale of globale politiek bekendstaan). Die module stel studente in staat om sin te maak van die verweefde aard van verhoudinge in die internasionale gemeenskap. Temas in die module sluit in die staat en buitelandse beleid, mag en die globale orde in die 21ste eeu, menseregte, humanitêre intervensie, internasionale reg, internasionale organisasies, regionalisme, globale regering, die Bretton-Woods-stelsel, en China se rol in die globale ekonomie.

Hierdie module bied studente ʼn breë bekendstelling aan die ekonomiese dissipline. Na voltooiing van hierdie module sal studente in staat wees om die fundamentele elemente van ekonomie in teorie en praktyk te begryp, en vorm die basis vir verdiepende studies in ekonomie.

Die doel van die module is om studente op te lei in die studie van die taal- en letterkunde van Afrikaans en Nederlands deur middel van inleidings tot aspekte van die linguistiese en letterkundige samestelling van Afrikaans – ook in sy verhouding tot Nederlands. Daarom sal ʼn kort oorsig gegee word van die verskillende komponente van die taalkunde van Afrikaans en van sy geskiedenis. Om die student voor te berei vir die akademiese diskoers oor Afrikaans sal normatiewe besinning oor die gebruik van Afrikaans deel vorm van die kursusinhoud in die eerste jaar. In die letterkundekomponent word verteenwoordigende poësie-, prosa- en dramatekste bestudeer in die raamwerk van ʼn oorsig oor die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde en van die sentrale temas en poëtiese raamwerke daarvan. Studente sal ook opgelei word in die vakkundige lees en ontleding van tekste.

Engels 1 stel studente bekend aan die akademiese bestudering van die Engelse taal- en letterkunde. Die module hanteer inleidende aspekte van die literatuurtradisie en letterkunde deur middel van die bestudering van tekste uit die hoofgenres, naamlik poësie, prosa en drama. Studente sal opgelei word om tekste te lees en analiseer. Die module lê verder ook klem op Engelse fonetiek en fonologie om begrip en waardering vir die verskillende uitsprake van Engels te kweek. Studente word ook voorberei op die gebruik van akkurate akademiese diskoers in Engels deur die bestudering van die grammatika.

Die doel van hierdie module is om studente bekend te stel aan basiese Sepedi-grammatika met ʼn fokus op die linguistiese strukture met ʼn hoë funksionele lading. Die studente word bekendgestel aan die 300 mees gebruikte woorde in Sepedi wat gebaseer is op ʼn lys wat verkry is van ʼn elektroniese datakorpus. Die module fokus verder op die lees en verstaan van eenvoudige, kort tekste en die skep van eenvoudige sinne. Eenvoudige luister- en gespreksoefeninge gee vir studente blootstelling aan die uitspraak van moedertaalsprekers en die geleentheid om dit in te oefen.

Die taalkomponent van hierdie module stel ten doel om studente se basiese taalvermoë in Duits te ontwikkel tot op B1+-bevoegdheidsvlak, soos voorgeskryf deur die Gemeenskaplike Europese Verwysingsraamwerk vir Tale (CEFRL). Die module lê dus klem daarop om studente se taalvaardigheid te ontwikkel sodat hulle basiese Duits met gemak kan verstaan en gebruik in verskeie kontekste, eenvoudige tekste kan skep oor ʼn verskeidenheid onderwerpe, hul ervaringe kan beskryf en ook hul opinies kan verduidelik. Die module fokus gevolglik op die kernaspekte van taalverwerwing: die bemeestering van luister-, praat-, lees- en skryfvaardighede. Hierdie module stel verder ten doel om studente ʼn oorsigtelike inleiding tot Duitstalige letterkunde binne die historiese gegewe van die twintigste eeu te bied. ʼn Keur van geskrewe en visuele tekste sal krities bespreek word, met spesifieke verwysing na die sosio-politieke en kulturele Europese konteks waarbinne dit ontstaan het.

Verskeie genres word in die Frans 1-module bestudeer, soos die verhaal (of conte), kortverhaal en ʼn keur van gedigte. Die geskiedkundige gebeure in Frankryk wat bepaalde betekenis vir die Afrikaanssprekende student inhou, kom in die tweede semester van die eerste jaar aan die orde. Die module ontwikkel studente se vaardighede wat betref die interpretasie van tekste en die formulering van samehangende argumente om bepaalde interpretasies te motiveer. Wat die taalkundekomponent van die module betref, fokus die module daarop om studente se taalvaardigheid tot op B1-vlak te ontwikkel volgens die Gemeenskaplike Europese Verwysingsraamwerk vir Tale (CEFRL). B1-gebruikers van ʼn taal kan die belangrikste inhoud verstaan wanneer dit oor algemene onderwerpe handel (soos reis, werk en universiteit) en in duidelike, standaardfrans gekommunikeer word.

Die eerste semester van hierdie module fokus op media- en openbare skakeling. Ons bestudeer toepaslike teorieë, beginsels en benaderings en pas dit toe op voorbeelde en gevallestudies. In die tweede semester kry studente ʼn breë oorsig van die wyse waarop die teorieë, tegnieke en besluitnemingsprosesse in bemarkingskommunikasie ʼn organisasie se handelsmerk en reputasie kan ondersteun. Daar word van studente verwag om teoretiese kennis toe te pas om ʼn basiese bemarkingskommunikasieplan vir ʼn organisasie saam te stel.

Hierdie jaarmodule fokus daarop om vir studente ʼn deeglike begrip te gee van digitale media en hoe dit die media- en kommunikasiebedryf beïnvloed. Die module rus studente toe met die praktiese vaardighede om digitale media te gebruik vir bemarkings-, media- en openbare skakelings- en joernalistieke doeleindes. Die module lê klem daarop om studente se visuele en digitale geletterdheid te bevorder en hulle in staat te stel om digitale media op ʼn doelgerigte, verantwoordelike, sinvolle en etiese manier toe te pas in die media- en kommunikasiebedryf.

Hierdie jaarmodule fokus op nuusontwerp. Studente word deur die loop van die jaar toegerus om koerante, tydskrifte en nuusbriewe te ontwerp vir drukmedia en digitale platforms. Studente word ook gelei om die teorie toe te pas om publikasies te beplan, bestuur en te lewer deur gebruik te maak van rekenaarsagteware. Media- en visuele geletterdheid word ook in hierdie module bestudeer, en studente se kennis en vaardigheid om visuele boodskappe en mediatekste krities te ontleed word deurgaans geslyp.

Hierdie module lê klem op skryfwerk en redigering vir bemarkings- en media- en openbare skakelingsdoeleindes. Kopieskryf en skryfwerk vir digitale media word hier ondersoek. Studente word toegerus om teoretiese beginsels toe te pas om gehalte-kopie vir veral digitale platforms in Afrikaans en Engels te skryf en redigeer.

In hierdie module word studente gelei om die verhouding tussen die media, politieke instansies en die publiek aan die hand van sleutelteorieë, -beginsels en ‑benaderings te ondersoek, met spesifieke verwysing na die Suid-Afrikaanse konteks. Studente word daarin onderrig om die teorie prakties toe te pas om kommunikasieboodskappe en -strategieë binne hierdie kontekste te beplan en ontleed.

In hierdie jaarmodule kry studente ʼn deeglike oorsig van die wetgewing en beleids- en etiese raamwerke waarbinne media- en kommunikasiepraktisyns hulle take in Suid-Afrika uitvoer. Ons ondersoek die teoretiese en filosofiese grondslag van etiek en normatiewe diskoers in die media- en kommunikasiekonteks, interne en eksterne regulering, asook kwessies soos laster, privaatheidskending en objektiwiteit aan die hand van praktiese voorbeelde en gevallestudies.

Kommunikasiebestuur 3 rus studente eerstens toe om strategiese kommunikasie-aktiwiteite soos krisiskommunikasie en verhoudingsbestuur in ʼn organisasie te bestuur. Studente pas teoretiese kennis toe om ʼn strategiese kommunikasieplan vir ʼn organisasie saam te stel en te evalueer. Studente word ook toegerus met die kennis, vaardighede en insig om volhoubare sosiale verandering te fasiliteer in die plaaslike ontwikkelingskommunikasiekonteks. Korporatiewe sosiale verantwoordelikheid en gesondheids- en omgewingskommunikasie kom hier onder bespreking. In die tweede semester word studente gelei om ʼn geïntegreerde kommunikasieplan vir ʼn organisasie saam te stel deur die onderskeie kommunikasiefunksies soos media- en openbare skakeling, bemarking en advertensie te belyn. Studente werk deur die loop van die jaar aan portefeuljes.

In die eerste semester van hierdie module word studente toegerus om ʼn webwerf vir ʼn organisasie te beplan, ontwerp en te bestuur deur gebruik te maak van rekenaarsagteware. Studente word ook gelei om korporatiewe media wat gemik is op interne of eksterne belangegroepe te bestuur. Aan die einde van hierdie module sal studente dus ook in staat wees om sinvolle inhoud vir korporatiewe publikasies (soos webwerwe, tydskrifte en nuusbriewe) te beplan, te ontwerp en te skep. Studente werk deur die loop van die jaar aan portefeuljes.

In hierdie module word studente toegerus om as multimediajoernaliste in ʼn digitale en samelopende nuuskantoor te funksioneer en gehalte-inhoud op verskeie platforms vir ʼn verskeidenheid teikengehore te skep. Studente wat hierdie module suksesvol voltooi, sal in staat wees om inhoud met teks, klank, video en beeld te skep. In die tweede semester word studente se insig in die dinamiese verhouding tussen die media en die samelewing verdiep, en mediaverteenwoordiging en identiteit kom onder die loep. Ons ondersoek kwessies soos die media en gender, ras, MIV/Vigs en geweld. Studente werk deur die loop van die jaar aan portefeuljes.

In hierdie module maak studente kennis met navorsing in die sosiale wetenskappe en word gelei om onafhanklik navorsing te doen in die kommunikasie- en mediavelde. Die module fokus op die onderskeid tussen kwalitatiewe, kwantitatiewe en gemene metode -benaderings, en fokus op die stappe in en elemente van die navorsingsproses. Studente word gelei om die teorie prakties toe te pas om navorsing in die sosiale wetenskappe op ʼn kritiese en etiese wyse te doen. Hierdie module berei studente voor op nagraadse studies.

ANDER INLIGTING

Die program kan in ’n minimum tydsduur van drie jaar voltooi word. Die maksimum toelaatbare tyd vir voltooiing is sewe jaar.

Toelatingsvereistes

  • Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat graadstudies spesifiseer, asook: Afrikaans 50%
  • Sertifikaat van vrystelling uitgereik deur USAf indien ʼn ander skoolverlater kwalifikasie as NSS behaal is.
  • ʼn Hoër Sertifikaat in ʼn ooreenstemmende studieveld.

Programkoste vir 2025

Jaar een: Vanaf R64 020 | Jaar twee: Vanaf R57 800 | Jaar drie: Vanaf R77 000

Handboeklyste vir 2024 word na suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.

 

DOEN NOU AANSOEK OM BA (KOMMUNIKASIE EN JOERNALISTIEK) TE STUDEER