Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia lewer 384 studente af by jaarlikse kwalifikasieplegtigheid

Akademia het vanjaar ʼn rekordgetal van 384 kwalifikasies oor elf programme toegeken by die jaarlikse kwalifikasieplegtigheid wat op 25 April by die Choose Life-kerk in Pretoria gehou is.

Volgens Liana van Rooy, registrateur by Akademia, is die kwalifikasieplegtigheid ʼn belangrike hoogtepunt op die instelling se jaarlikse kalender. “Hierdie geleentheid is die afsluiting van jare se harde werk en toewyding deur personeel maar ook in die besonder deur die studente wat die kwalifikasies ontvang,” sê sy. “Op hierdie spesiale dag word Akademia se toewyding as akademiese tuiste tentoongestel en ons studente se akademiese prestasies word hier gevier.”

Alhoewel die ontvangs van hul kwalifikasies vir studente die simbool van akademiese prestasie is, is dit ook ʼn simbool van elkeen se persoonlike groei. “Die kwalifikasieplegtigheid is die begin van ʼn nuwe hoofstuk in baie van ons studente se lewens wat vir die eerste keer die werksmag toetree. Vir ander is dit die sleutel tot ʼn volgende hoofstuk van bevordering of ʼn nuwe beroep,” sê Van Rooy.

Die elf programme wat studente aflewer is soos volg:

  • Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en VOO-onderwys)
  • Nagraadse Diploma in Belasting
  • Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde
  • Gevorderde Diploma in Projekbestuur
  • BCom (Ondernemingsbestuur)
  • BCom (Ekonomie en Regte)
  • BCom (Bestuursrekeningkunde)
  • BCom (Finansiële Beplanning
  • BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie)
  • Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie
  • Hoër Sertifikaat in Rekeningkunde

Volgens Van Rooy word daar jaarliks ál meer studente vanuit verskillende dissiplines afgelewer. “Vanjaar spog Akademia met 384 graduandi wat uitstekend toegerus is om in hul onderskeie gemeenskappe verder te gaan bou aan ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.”

Sy noem verder dat die nuwe graduandi deur hul studiereis by Akademia blootgestel is aan die instelling se vormingsideaal wat die denke sowel as die hart vorm. “Ons graduandi is dus verder toegerus om hul loopbane tegemoet te gaan as hardwerkende en onafhanklike denkers, met ʼn liefde vir leer en ʼn dieper begrip van hulself en hul plek in die wêreld.”

Die verrigtinge is afgesluit met ʼn historiese oomblik toe die universiteitslied van Akademia vir die eerste keer tydens ʼn kwalifikasieplegtigheid gesing is. Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, is die sing van die universiteitslied by die kwalifikasieplegtigheid ʼn belangrike nuwe tradisie. “Die universiteitslied verteenwoordig Akademia se tradisie, geskiedenis, waardes en sy mense. Dit skep ʼn gevoel van samesyn, trots en gemeenskap vir ons studente en personeel.”

Van Rooy sê dat die voltooiing van ʼn kwalifikasie ʼn groot prestasie is en dat elke alumnus trots kan wees op al die harde werk wat hul tot hier gebring het. “Elkeen moes veerkragtigheid en vasberadenheid tydens hulle studies toon, terwyl hul uitdagings van hul eie beleef het wat soms hierdie reis moeiliker gemaak het.”

Haar wens vir die nuwe alumni is om deur hul kennis en vaardighede ʼn positiewe bydrae tot hul onderskeie vakgebiede, gemeenskappe en die wêreld te lewer. “Akademia is opgewonde om te sien wat elke alumnus in hul loopbaanreis bereik,” sluit sy af.

Akademia het vanjaar met trots 384 studente afgelewer by die kwalifikasieplegtigheid op 25 April.