Search
Close this search box.

Wêrelderfenisdag – die mens as erfgenaam

Geskryf deur prof. Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia

Een van die mees opvallende eienskappe van ons as mense is dat ons erfgename is. Sonder dat ons altyd daarvan bewus is, erf ons dinge wat ons nie self gemaak het nie, maar wat nogtans ʼn blywende stempel op ons laat.

ʼn Voorbeeld hiervan is die tradisie van die universiteitswese. Enigeen wat vandag op een of ander wyse by die universiteitswese betrokke is, is erfgename van ʼn eeueoue universiteitstradisie. Ons begrip van die universiteit word (willens en wetens) deur dié tradisie gestempel.

Ons kan natuurlik as mense ons rug op ons erfenisse draai. Ons kan besluit dat dit ouderwets of selfs agterlik is. En juis dít gebeur vandag aan talle universiteite. Onder die invloed van “wokeness” voer hulle aan dat die ou universiteit met ʼn nuwe soort universiteit vervang moet word. In plaas daarvan dat die universiteitswese oeroue ideale soos die ‘ware, die skone en die goeie’ nastrewe, moet hulle eerder dinge soos sosiale geregtigheid, gelykheid en inklusiwiteit najaag.

Een van die belangrikste vrae wat vandag aan Akademia gevra kan word, is waarom hy homself steeds as ʼn dankbare erfgenaam van die klassieke universiteitswese beskou. Waarom is Akademia steeds verbind tot die strewe na die ware, die skone en die goeie? Lewe ons nie vandag in ʼn tyd waarin dié oeroue bronne van die universiteitswese afgeskaf moet word nie?

Kom ons fokus slegs op die belangrikheid van die strewe na die ware. Wat gebeur met universiteite (maar ook met die politieke en sosiale ordes) as die ou strewe na die waarheid vaarwel geroep word?

Ons kan vandag met reg aanvoer dat die ou strewe na die waarheid nie net ʼn noodsaaklike bousteen van die universiteitswese is nie, maar ook vir genoemde ordes. Waarom?

Universiteite lewe wanneer die oeroue strewe na die waarheid in die hart van hul navorsing en onderrig staan. Wanneer dié strewe verdyn, word die hart uit die universiteit gepluk. Nêrens is dit duideliker as uit die gebeure in die klaskamer nie. Wanneer die strewe na die ware in die hart van die gesprekke tussen dosente en studente staan, word dit lewend, verbeeldingryk, selfs elektries (in ʼn tyd van elektrisiteitsverlies). Die waarheid is lewegewend, dit bring universiteite in beweging, eerder as om hulle in die verlede vas te vang.

Wanneer die waarheid egter nie die gesprekke lei en rig nie, vervlak klaskamers tot plekke waar vervelige gemeenplasighede uitgedeel word. Nog erger (en daarop het die ou Griekse wysgere ook reeds gewys) – sonder die waarheid word die opinies van dosente en studente blote magsmiddele waarmee gepoog word om beheer oor alles en almal uit te oefen.

Vandag gebeur dit aan die sogenaamde universiteite van “wokeness”. Vanweë die verlies aan die strewe na die ware word dié universiteite plekke waar die denke in die benoude voeë van ʼn eng ideologie vasgevang word. Slegs die waarheid kan ons uit dié engtes bevry.

Dit is ook waar van die politieke en sosiale ordes. As die waarheid uit dié ordes verdwyn, word alles tot ʼn kwessie van mag gereduseer. In plaas daarvan dat geregtigheid so geskied (en ‘elkeen so kry wat hom toekom’) gebeur die teenoorgestelde: Wanneer die waarheid verdwyn, geskied onreg. Laasgenoemde is ʼn ironiese feit, omdat die woke-universiteite in naam van ‘sosiale geregtigheid’ tot die teendeel van geregtigheid aanleiding gee.

Is die universitêre erfenis nog belangrik? Ons kan kort en kragtig daarop antwoord: Dit is lewensbelangrik. Ons menswees word daarsonder ernstig gekortwiek. Lank lewe ons universitêre erfenis.

Prof. Danie Goosen is die akademiese hoof by Akademia.