Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Spesialiseer in Bestuursrekeningkunde of Belasting met nagraadse diplomastudies

Gepubliseer op: 26 Oktober 2023

Die wêreld van werk verander voortdurend en daarom is dit belangrik om tred te hou met die nuutste denkrigtings en tendense in die bedryf waarin jy jouself bevind. Een van die maniere waarop jy deurentyd relevant in jou beroep kan bly is deur in nagraadse studies te belê.

In die lig hiervan bied Akademia op Woensdag 15 November om 18:00 ʼn interaktiewe aanlyn inligtingsessie oor nagraadse diplomastudies aan. Indien jy reeds oor ʼn BCom-graad beskik en ʼn passie het vir bestuursrekeningkunde of belasting is die nagraadse diplomas in onderskeidelik Bestuursrekeningkunde of Belasting nommerpas vir jou. Dié programme word via die instelling se nauurse afstandsmodel aangebied en sal tydens die inligtingsessie bespreek word. Ander punte op die agenda sal insluit klasbywoning, toelatingsvereistes, die aansoekproses asook die erkenning deur professionele liggame. Klik hier om jou plek vir die inligtingsessie te bespreek.

Nagraadse diplomastudies hou verskeie ander bykomende voordele in, waaronder: verhoogde indiensneembaarheid, loopbaanveerkragtigheid, verskerpte kritiese denke en probleemoplossingsvaardighede asook die uitbouing van ʼn dinamiese beroepsnetwerk.

Die doel van die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde is om studente verder toe te rus as bestuursrekenmeesters. Hierdie program fokus op die wêreld van finansiële bestuur vanuit ʼn korporatiewe en individuele perspektief, terwyl die klem op die verbetering van besluitneming in ʼn mededingende omgewing val. Nóg ʼn groot trekpleister van hierdie program is dat dit toelating tot die strategiese Geoktrooieerde Instituut vir Bestuursrekenmeesters (CIMA)-eksamen vergemaklik.

Op sy beurt is die Nagraadse Diploma in Belasting bedoel vir studente wat ʼn loopbaan in belasting beoog. Gevolglik bied dié program studente die nodige kennis en vaardighede wat daar van ʼn belastingkenner verwag word. Diesulke belastingkenners sal na afloop van die voltooiing van die program in staat wees om organisatoriese en individuele nakoming van die vereistes van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Nasionale Tesourie te verseker. Hiermee saam sal suksesvolle studente in staat wees om ontwikkelinge in verskeie velde van belasting te ontleed en aan te spreek by wyse van gevorderde kennis, vaardighede en analitiese vermoëns.

Die aanlyn inligtingsessie oor die nagraadse diploma in onderskeidelik Bestuursrekeningkunde of Belasting laat belangstellendes toe om vanuit die gemak van hul eie leefruimtes hul studiemoontlikhede vir 2024 te oorweeg.