Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Mentors dien as rigtingwysers op die pad na sukses en loopbaanvervulling

Gepubliseer op: 25 Oktober 2023

Geskryf deur dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia.

Die lewe is voorwaar ʼn reis en hierdie avontuur word gekenmerk deur verskeie fases waarin jy verskillende titels aanneem. Dink ʼn bietjie hieroor na. Ná ʼn skoolloopbaan van twaalf jaar skud jy die titel as skolier af. Ná jou tersiêre studies verruil jy jou studentweesstatus as Fontie vir dié van alumnus. Dalk hervat jy later weer jou studies en trek jy die baadjie van lewenslange leerder aan. Dieselfde geld vir jou toetrede tot die wêreld van werk.

As afgestudeerde wat vir die eerste keer die werkomgewing betree mag dit dalk vir jou voel asof jy hierdie nuwe fase as ʼn enkeling betree. Om die waarheid te sê, jy mag selfs wêrelde verwyderd voel van jou bekende ondersteuningsnetwerk, in die vorm van onderwysers en dosente, wat jou gedurende jou skolastiese en naskoolse opleidingsreis vergesel het. Dit was immers hierdie ondersteuningsnetwerk wat struktuur en leiding gebied het en as’t ware jou roete vir jou uitgestippel het.

Maar hoe nou gemaak? As jong werkende moet jy jou eie keuses neem en jou loopbaanroete vir jouself uitkerf. Dit is hier waar mentorskap ʼn belangrike rol speel.

ʼn Mentor is iemand wat as ʼn vertroueling jou kan adviseer, rigting gee en ondersteun. Juis om hierdie redes word mentorskap alom as die hoeksteen van professionele ontwikkeling en loopbaantevredenheid gesien. Navorsing toon gevolglik dat mentorskap onder meer produktiwiteit en werktevredenheid verhoog, persoonlike groei teweegbring, passie laat ontvlam, en die risiko van uitbranding verlaag.

Daar word tussen vier tipes mentorskap onderskei, naamlik:

  • Formele mentorskap vind gestruktureerd binne ʼn onderneming plaas en gedurende hierdie proses word ʼn mentor aan ʼn werknemer toegewys.
  • Informele mentorskap is meer spontaan van aard en die interaksie is ontspanne en vind plaas soos dit verland word. Hierdie mentorskapsverhouding kan op beide ʼn persoonlike of professionele vlak ontwikkel.
  • Spesifieke mentorskap (in Engels on the spot mentoring) verwys na ʼn korttermyn mentorskapsverhouding en spreek ʼn spesifieke behoefte aan. Hierdie verhouding spreek ʼn onmiddellike behoefte aan mentorskap aan.
  • Ewekniementorskap vind plaas wanneer die mentor op dieselfde vlak as die werknemer is of met dieselfde werk as die werknemer besig is. Hierdie mentorskap is wedersyds en berus op gedeelde leer en samewerking.

Dit is belangrik om te weet dat buiten hierdie genoemde mentorskapstipes, jy vir jouself informele, spesifieke en ewekniementors kan identifiseer. Die onus rus ook op jou om dit wat jy wil leer duidelik uit te stippel en die keuse uit te oefen oor of ʼn mentorskapsverhouding met jou waardesisteem belyn, al dan nie.

In Spreuke 13:20 leer ons dat diegene wat met wyse mense omgaan self wys word, maar dat dié wat hul met dwase meng self soos ʼn dwaas sal word. Die keuse is daarom joune om op ʼn mentor te besluit waarmee jy ʼn impakvolle en eerlike reis kan aanpak. Amos 3:3 waarsku dat jy nie toevallig ʼn pad saam met iemand moet stap nie, maar werklik ʼn doelbewuste besluit daaroor moet maak. Beide hierdie teksverse dra die boodskap oor dat jy jou mentors doelbewus en met groot omsigtigheid moet kies.

Volgens Mona Lindeman en Susan O’Loughlin van die CS Lewis Instituut  kan ʼn mentor met ʼn tuinier vergelyk word – ʼn kunstenaar wat skoonheid sien voordat dit sigbaar is, wat hande vuilmaak en getrou bossies en onkruid uittrek, snoei en water gee. Eers na die tyd kan die mentor, soos die tuinier, terugstaan en die groei en skoonheid wat plaasgevind het waardeer.

Dit is Akademia se wens dat elke lid van die alumni-familie hul loopbaanreis met ʼn wyse mentor sal aanpak, en ook in die toekoms as mentors vir ander sal optree. Mag elkeen van julle as ʼn mentor in iemand anders se lewenstuin spit en julself aan die eindresultaat van mentorskap kan verwonder: “Hier voor my vind ʼn wonder plaas: uit dooie grond sien ek ʼn plantjie groei”.

Dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, spreek die hoop uit dat elke Akademia-alumnus die impak van ʼn goeie mentor in sy/haar loopbaanreis sal ervaar.