Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die ja en nee van effektiewe tydsbestuur

Gepubliseer op: 25 Oktober 2023

Geskryf deur dr. Mandie Dubery, maatskaplike werker verbonde aan Studentesake by Akademia.

Gegewe die snelle pas waarteen die lewe gebeur is tydsbestuur ʼn onontbeerlike vaardigheid veral vir jong werkendes wat aan die begin van hulle professionele loopbaanreis staan. 

Effektiewe tydbestuur fokus daarop om persoonlike produktiwiteit te verbeter, stres effektief te verminder en individue te help om ʼn gesonde balans te verseker tussen werk en sy/haar persoonlike lewe. Wanneer daar oor tydsbestuur gesels word, kom die volgende beginsels na vore: doelwitstelling, prioritisering, delegering, die gebruik van beskikbare hulpbronne, die beperking van afleidings en goeie selfsorg. Hierdie beginsels het dit ten doel om uitbranding tee te werk, maar die toepassing daarvan is soms makliker gesê as gedaan.

Simon Sinek, bekende skrywer en motiveringspreker, handhaaf die mening dat ʼn balans tussen werk en ʼn individu se persoonlike lewe nie werklik moontlik is nie, omdat dié siening twee teenpole veronderstel wat dikwels teen mekaar inwerk. Volgens Sinek behoort integrasie, eerder as balans, die fokus te wees. Hierdie integrasie berus op die daarstelling van duidelike grense. In kort, die vermoë om te onderskei wanneer om ja te sê en wanneer om nee te sê.

Hiermee ʼn paar riglyne om jou te help om dié grense duidelik af te baken:

Wanneer om ja te sê

  • As dit jou loopbaan bevorder

Soms kan nuwe geleenthede, take of projekte jou loopbaan ʼn aansienlike hupstoot gee. As ʼn versoek of taak jou vaardighede en kennis kan verbeter, kan dit die moeite werd wees om dit te oorweeg. Dit kan ook jou posisie en aansien in die organisasie verhoog.

  • Wanneer dit jou leerervaring verryk

Voortdurende leer is noodsaaklik ten einde suksesvol te wees in jou loopbaan. As ʼn projek jou blootstel aan nuwe idees, tegnologieë of ervarings wat jou leerproses verryk, behoort jy dit te oorweeg.

  • As dit jou passies en belange aanskakel

Wanneer jy ja sê vir projekte wat belyn is met jou persoonlike belange en passies, sal jy meer gemotiveerd en betrokke wil wees. Hierdie betrokkenheid kan ʼn gevoel van vervulling en betekenis ontsluit.

Wanneer om nee te sê

  • Wanneer ʼn versoek buite jou ooreengekome pligte val

Dit is belangrik om duidelike grense te stel rakende jou verantwoordelikhede in die werkplek. As ʼn taak of projek buite die omvang van jou werksbeskrywing val en die uitvoering van jou primêre pligte kan beïnvloed, moet jy dit oorweeg nie betrokke te raak nie. Deur sulke versoeke van die hand te wys kan jy jou fokus op jou doelwitte behou, sonder dat jou aandag afgetrek word.

  • As jy oorlaai is

As jy oorlaai word met te veel take, kan dit lei tot ʼn afname in produktiwiteit en ʼn toename in stres. As jy reeds ʼn vol program het en ʼn nuwe versoek of taak sou jou oorlaai, is dit tyd om nee te sê. Dit is nie net goed vir jou gesondheid nie, maar dit sal jou ook in staat stel om jou ander take beter te hanteer.

  • Wanneer dit nie tot jou langtermyndoelwitte bydra nie

Dit is maklik om vasgevang te raak in korttermynprojekte en take wat nie bydra tot jou langtermynloopbaandoelwitte nie. Voordat jy dus oorweeg om vir sulke versoek in te stem, oorweeg eers of die taak of projek tot jou loopbaan- of lewensdoelwitte spreek. 

  • As jou persoonlike lewe negatief beïnvloed word

Jou persoonlike lewe is net so belangrik soos jou professionele lewe. As ʼn taak of versoek jou persoonlike lewe negatief affekteer, soos byvoorbeeld om jou gesondheid in gedrang te bring of tyd saam met jou familie in te perk, is dit ʼn goeie aanduiding om nie betrokke te raak nie. ʼn Gebalanseerde lewe dra by tot jou algemene welstand en produktiwiteit.

In die wêreld van professionele ontwikkeling en tydsbestuur is die vermoë om op die regte oomblik ja of nee te sê, van uiterste belang. Om nee te sê is nie altyd maklik nie en dit kom nie natuurlik vir baie persone nie. Dit verg selfbewustheid, duidelike prioritisering en ʼn gevoel van eienaarskap oor jou tyd en energie. Deur hierdie beginsels van effektiewe tydsbestuur te omarm, kan jy ʼn suksesvolle en geïntegreerde lewe bou wat terselfdertyd jou loopbaan en persoonlike welstand bevorder.

Dr. Mandie Dubery meen dat die daarstelling van gesonde grense ʼn groot rol speel in effektiewe tydsbestuur.