Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia bied ʼn sentrumopedag by die Moot-sentrum in Pretoria aan

Gepubliseer op: 24 Oktober 2023

Akademia sluit sy opedaekalender vir die jaar af met ʼn sentrumopedag in die Moot, Pretoria, op Saterdag 11 November tussen 09:00 en 13:00. Dié opedag volg kort op die hakke van soortgelyke geleenthede in onderskeidelik Bloemfontein en George vroeër in Oktober.

ʼn Geleentheid soos die sentrumopedag bied aan voornemende studente die ideale geleentheid om meer inligting oor die verskillende onderrigleermodelle (die nauurse afstandsmodel sowel as die voltydse kampusmodel) en beskikbare studierigtings te bekom. Belangstellendes sal ook kan bladskud met Akademia-personeel, kwelvrae opper én eerstehands ervaar wat studentwees aan dié onafhanklike hoëronderwysinstelling behels.

Enigiemand wat daaraan dink om in 2024 sy/haar studiereis by Akademia te begin, is welkom. Dit sluit in skoolverlaters wat kopkrap oor hul moontlikhede ná afloop van graad 12 en werkende persone wat óf hul loopbaanmoontlikhede wil verbreed óf selfs ʼn nuwe loopbaanrigting oorweeg. Akademia bied aan diesulkes die geleentheid om nie net ʼn kwalifikasie in Afrikaans te voltooi nie, maar ook om sy/haar volle potensiaal te ontgin.

Volgens Lizán Maree, bestuurder: Studentewerwing, het die sentrumopedae dit ten doel om voornemende studente toe te rus met die nodige inligting ten einde ʼn ingeligte besluit oor hul studieloopbaan te neem. Sy voeg by dat kundige personeel by die Moot-sentrum beskikbaar sal wees om vrae te beantwoord oor onder meer roosteropsies vir werkende studente, beskikbare dienste en produkte asook studenteondersteuning en studentelewe.

Die sentrumopedag sal voorafgegaan word deur ʼn netwerkgeleentheid op Vrydag 10 November om 12:00. Tydens hierdie geleentheid sal Shaun Coetzee, ʼn dosent aan Akademia, met belangstellendes gesels oor die basiese beginsels van finansiering soos dit van toepassing is op entrepreneurs. Ná afloop van dié sessie sal daar ʼn geleentheid wees vir studente, besigheidslui en ander belangstellendes om bande te bou en verversings te geniet. Die bywoningskoste vir die netwerkgeleentheid beloop R100 per persoon. Bespreek jou plek hier.

Registreer só vir die sentrumopedag:

  • Registreer deur op hierdie skakel te klik. Voltooi die besprekingsvorm deur jou kontakbesonderhede in te vul en klik dan op ‘Bespreek’.
  • Sodra jy suksesvol geregistreer het, sal jy ʼn e-pos ter bevestiging ontvang.

Akademia se landswye netwerk van sentrums verteenwoordig ʼn belangrike ondersteuningstruktuur vir studente wat hul studie via die nauurse afstandsmodel aanpak. Dié interaktiewe sentrums is toegerus met gratis internettoegang ten einde studente toegang te bied tot die mediasentrum, asook die Spens, Akademia se unieke aanlyn ondersteuningstelsel.

Besoekers aan die Moot-sentrum is welkom om op 11 November enige tyd tussen 10:00 en 13:00 by die sentrum in Waverley Plaza, Pretoria, aan te klop.

Akademia sien uit daarna om jou te ontmoet!

Die Akademia-sentrumopedag in die Moot, Pretoria, vind op 11 November plaas.