Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Hanteer só kritiek in die werksplek

Gepubliseer op: 23 Oktober 2023

Geskryf deur Paul Smit, Akademia-studentesake: Strategiese ontwikkeling

Die woord “kritiek” word alom as negatief ervaar. Dit mag wees omdat kritiek dit onder andere ten doel het om kommentaar te lewer oor iemand se standaard van werk. Om dié rede is mense geneig om verdedigend teenoor kritiek te reageer. Hoe dit ook al sy, hierdie kommentaar is nie altyd net negatief nie, en kan ook as opbouend ervaar word.

Om opbouende of konstruktiewe kritiek te lewer is ʼn daadwerklike kuns. Sonder opbouende kritiek sal ʼn organisasie sukkel om potensiaal te ontwikkel en sodoende die werksverrigting van werknemers te optimaliseer. Die vraag is egter: Wat presies is opbouende kritiek en hoe lyk dit in die werksplek?

Die doel van konstruktiewe kritiek is om sinvolle aanbevelings te maak ten einde uitkomste te verbeter. Hierdie tipe kritiek fokus gevolglik op toekomstige verbetering eerder as huidige gebreke. In kort, dit fokus méér op die produktiwiteit van ʼn werknemer binne die organisasie as wat dit ʼn direkte fokus op die persoon is.

Op die keper beskou is opbouende kritiek ʼn belangrike leierskapsvaardigheid wat ʼn goeie leier toerus met die vaardigheid om sy of haar span positief te motiveer. Die volgende wenke kan leiers help om die angel uit kritiek te haal en waarde toe te voeg in die werksplek:

  • Opbouende kritiek word gelewer binne die raamwerk van goeie menseverhoudinge.
  • Effektiewe leiers deins nie daarvan terug om tydens ʼn terugvoergesprek hom- of haarself deel van die kritiek te maak nie.
  • Opbouende kritiek verg emosionele intelligensie. Dit behels onder andere die vermoë om jouself in die skoene van die ander persoon te plaas (die ontvanger van die kritiek).
  • Eerlikheid, lojaliteit en respek is eienskappe wat help dat kritiek as opbouend beleef word.
  • Om konstruktiewe kritiek te ontvang, verg ʼn groot mate van volwassenheid, sensitiwiteit en vertroue.
  • Skep ʼn veilige ruimte waarbinne partye die reg het om deel te neem aan die terugvoergesprek.
  • Goeie luistervaardighede is uiters noodsaaklik om opbouende kritiek te verseker.
  • Gee aan die persoon wat inspraak kry die geleentheid om self of saam met die span ʼn verbeteringsplan uit te werk. Maak terugvoer ʼn dialoog eerder as ʼn lesing of alleenspraak.

Nog ʼn belangrike aspek wat in gedagte gehou moet word, is dat daar versigtig omgegaan moet word wanneer daar gepoog word om lof en kritiek te probeer balanseer. Lofprysing kan as ʼn rookskerm vir afbrekende kritiek ervaar word. Onthou dat erkenning vir goeie werk ʼn besliste positiewe rol speel wanneer kritiek opbouend gedeel word.

Dit moet ook nie uit die oog verloor word dat dit somtyds nodig is om moeilike gesprekke met werknemers te hê wat tot afleggings kan lei nie. Tydens só ʼn gesprek (somtyds na vele voorafgaande gesprekke sonder verbetering) is dit moeilik om ʼn terugvoergesprek slegs as opbouend te hanteer.

Kritiek hoef nie altyd as negatief ervaar te word nie. Paul Smit, ʼn lid van Akademia se Studentesake-afdeling, meen opbouende kritiek dra nie net by tot die ontwikkeling en uitbouing van potensiaal nie, maar optimaliseer ook werksverrigting.