Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-kenner: Gemeenskappe stap saam op matriekeindeksamenreis

Gepubliseer op: 20 Oktober 2023

Geskryf deur dr. Chris-Mari Le Hanie, ʼn dosent by die Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia.

Matrikulante dwarsoor Suid-Afrika maak gereed om vanaf 30 Oktober vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen te sit. Volgens die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, sal meer as 723 000 kandidate vanjaar se eksamen in 6 800 sentrums landwyd aflê.

Dié eksamen, wat tydens die eerste week van Desember tot ʼn einde loop, verteenwoordig nie net ʼn belangrike skolastiese assesseringstydperk nie, maar ook ʼn tyd van verhoogde emosie en angs vir leerders. In die lig hiervan is dit belangrik dat ouers, voogde, versorgers en die gemeenskap in geheel ʼn laer ter ondersteuning om hierdie leerders trek en as medereisigers die eindeksamentog aanpak.

ʼn Multidimensionele ondersteuningsnetwerk

As daar na die oorsprong van die woord “assessering” gekyk word, is dit interessant om te sien dat die Latynse werkwoord assidere beteken “om saam te sit”. Etimologies spieël dié betekenis die multidimensionele aard van assessering en word dit duidelik dat die matriekeindeksamen, as ʼn assesseringsmiddel, nie iets is wat deur matrikulante alleen deurgemaak moet word nie. Nee. Die eindeksamen is ʼn gemeenskapsaktiwiteit en getuig van méér as net ʼn summatiewe assesseringsdoelwit.

Onderwysers bevind hulself in die voorste linie saam met hul leerders tydens die eindeksamen. In hierdie opsig vervul onderwyslui sewe belangrike rolle,  onder andere dié van: fasiliteerder, vakspesialis, kurrikulumontwikkelaar, navorser en lewenslange leerder, gemeenskapsleier en bestuurder.

Die volgende ondersteuningvlak bestaan uit ouers, voogde en die versorgers van matrikulante. Dit is die rol van hierdie binnesirkel om te let op die fisiese manifestering en gepaardgaande bestuur van ʼn matrikulant se stresvlakke. Ondersteuning word gebied deur onder meer gereelde gesprekke met die leerder te voer, belangstelling te toon, as motiveerder op te tree en die daarstelling van bevorderlike leerruimtes.

Die breër gemeenskap dien as ʼn derde vlak van ondersteuning. Laasgenoemde is veral belangrik as dit kom by die oopbreek van kontekste. Omdat die matriekeksamen ʼn gestandaardiseerde eksamen is, word daar van die aanname gewerk dat alle Suid-Afrikaanse matrikulante dieselfde kontekstuele blootstelling geniet. Hierdie aanname is problematies vanweë die uiteenlopende sosio-ekonomiese en geopolitieke aard van die land en daarom rus die onus op gemeenskappe om matrikulante met kennis toe te rus.

Beroepslui soos beraders, lewensafrigters, geestelike en gemeenskapsleiers tree binne hierdie ondersteuningsvlak as belangrikte rigtingwysers in ʼn matrikulant se eksamenreis op.

Goeie voorbereiding

Derhalwe vir dié multidimensionele ondersteuningsnetwerk speel deeglike en nougesette voorbereiding ʼn deurslaggewende rol. Hiermee ʼn paar praktiese studiewenke wat aan matrikulante voorgehou kan word, om die angel uit die voorbereiding vir die eksamentyd te haal:

  • ʼn Studierooster werk laaste-minuut studies, onnodige druk en eksamenangs teë. Wanneer ʼn studierooster opgestel word, moet die verlangde uitkomste realisties wees, veral met betrekking tot die hoeveelheid tyd wat aan elke vak toegeken word. Leerders moet ook hul eie ritme en studievoorkeure in ag neem.
  • Effektiewe tydsbestuur is belangrik.
  • ʼn Produktiewe werkruimte bevat genoeg lig en vars lug, terwyl dit die leerder skans teen onnodige onderbrekings. Selfone behoort weggebêre te word omdat dit maklik die leerder se konsentrasievlakke kan beïnvloed.
  • Kies ʼn studiemetode wat waarde toevoeg.
  • Neem na elke 35 tot 40 minute ʼn geriefsbreek van 10 tot 15 minute. Tydens hierdie breek moet leerders iets doen wat hul aandag van hul studies aflei. Aktiwiteite wat oorweeg kan word sluit in fisieke oefening, lees vir ontspanning of om tyd saam met ʼn troeteldier te spandeer.
  • Eet gesond en drink genoeg water.

Nadat ʼn leerder al die inhoud geleer het, word dit sterk aanbeveel om deur vorige vraestelle te werk. Op hierdie manier word ʼn eksamenatmosfeer nageboots en die leerder raak vertroud met die verskillende maniere waarop vakkennis getoets kan word. Die volgende hulpbronne kan hier van nut wees: LitNet se Skole-afdeling, die Departement van Basiese Onderwys se webtuiste, die Mind the Gap-studiegidse (wat belyn is met die Kurrikulum en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) wat tans in publieke skole in Suid-Afrika toegepas word) en die Wes-Kaapse Departement van Onderwys se wenke vir sukses. Akademia wens alle matrikulante sukses toe met die eindeksamen.

Dr. Chris-Mari Le Hanie, dosent in Opvoedkunde by Akademia, verduidelik dat die eindeksamenreis ʼn gemeenskaplike doel is en dat ondersteuning via ʼn multidimensionele ondersteuningsnetwerk geskied.