Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-alumnus dien die gemeenskap deur deelname en dade

Gepubliseer op: 19 Oktober 2023

Elke onderneming en organisasie word gekenmerk deur verskillende persoonlikheidstipes. Hierdie persoonlikhede word dikwels aan ʼn spesifieke kleur gekoppel, soos byvoorbeeld geel, groen, blou en rooi. Sommer so met die intrapslag is dit duidelik dat Akademia-alumnus, Lindy Steyn, haarself by die aansteeklike en vreugdevolle geelpersoonlikheidsgroep skaar.

Dié oud-BCom (Ondernemingsbestuur)-student en Akademia-studenteleier, is op haar gelukkigste in die gemeenskap waar sy deur betrokkenheid en dade ʼn verskil kan maak. “Ek geniet dit om te dien en daarom is dit vir my belangrik om met hart en siel in my gemeenskap, hetsy persoonlik of professioneel, betrokke te wees.” As projekkoördineerder vir die skenkingsfondse van onderskeidelik Akademia, Sol-Tech en Solidariteit se Skoleondersteuningsnetwerk (SOS) kom dié geesdrif Steyn goed te pas.

Steyn vertel dat haar paadjie heel terloops met dié van Akademia gekruis het, en dat sy aanvanklik daarvan gedroom het om haarself as ʼn lugwaardin te bekwaam. Haar plan was om haar in dié rol te vestig, die wêreld te sien en geld te spaar om later te studeer. ʼn Geleentheid om via die nauurse afstandsmodel aan Akademia te studeer en by die destydse studiesentrum in Vanderbijlpark aan te sluit, het egter vir ʼn nuwe en opwindende loopbaanreis gesorg.

Steyn was vanaf 2016 tot 2021 verbonde aan Akademia, en is dit eens dat haar ervaring as Fontie beslis ʼn hoogtepunt op haar loopbaanreis verteenwoordig. Sy het op die BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie besluit omdat sy vanaf ʼn jong ouderdom in die besigheidswêreld belanggestel het. “Entrepreneursdae op skool was vir my ʼn hoogtepunt van elke kwartaal en ek kon nie wag om vir ʼn dag myself as ʼn wafferse besigheidsvrou voor te doen nie,” onthou Steyn. Gedagtig aan dié ervaring het Steyn as ʼn jong entrepreneur haar eie fotografiebesigheid begin. Sy meen dit is veral die strategiese aard van besigheid wat haar belangstelling prikkel en as sodanig stel sy baie belang in handelsmerkbestuur, konsepbeplanning en die implementering van besigheidstrategieë.

Volgens Steyn moes sy tydens haar studies verskeie kere verhuis – hoofsaaklik as gevolg van nuwe werksgeleenthede en kon sy danksy die nauurse afstandsmodel ongeag hiervan onverpoosd met haar studies voortgaan. Sy vertel dat sy gedurende hierdie tyd by drie verskillende sentrums ingeskakel het, naamlik Vanderbijlpark, Bellville en Centurion. “Dit het my, wat voltyds gewerk het, soos ʼn handskoen gepas om saans wanneer die wêreld om my rustig raak, myself met my studies te kon besig. ʼn Groot pluspunt was die feit dat ek dit wat ek in my studies geleer het, prakties by die werk kon toepas,” vertel Steyn.

As sy terugdink aan haar studies, bly dit haar by hoe haar dosente die ekstra myl geloop het om haar en haar klasmaats te ondersteun. Eertydse dosente soos Carla Schutte en dr. Sandra Adendorff sal volgens Steyn altyd ʼn spesiale plek in haar hart hê. “Akademia se dosente doen soveel meer as net klasgee en kennis oordra. Hulle belê in die potensiaal van elke student,” meen Steyn.

“Ek sal altyd ʼn trotse Fontie wees,” sê Steyn en vertel dat sy tydens haar studies ook as studenteleier diens gedoen het. Sy was ʼn lid van Akademia se ambassadeurspan, waarna sy ook op die studenteraad gedien het; eers as leier getaak met Tesourie en Bemarking in 2020, en daarna as studenteraadsvoorsitter in 2021. Laasgenoemde bly vir Steyn ʼn hoogtepunt omdat Akademia in dié jaar vir die eerste keer studente op die voltydse kampusmodel verwelkom het.

“Akademia het my toegerus om my passie vir mense, besigheid en die gemeenskap met selfvertroue uit te leef. Vandag is ek opgewonde om deur my werk en my status as Akademia-alumnus steeds nou betrokke by my alma mater te wees. Die feit dat my dagtaak my in staat stel om studente te help om hul studiedrome te verwesenlik is vir my ʼn ongelooflike seën, en ek is bevoorreg om dié roeping te mag vervul,” sluit Steyn af.

Indien jy betrokke wil raak en tot Akademia se skenkingsfonds wil bydra, klik hier. Die doel van die skenkingsfonds is om finansiële ondersteuning aan behoeftige studente te bied.

Akademia is trots op sy oudstudente en dit is verblydend om te sien hoe lede van die alumni-netwerk hulself as dienende leiers in die gemeenskap vestig. Die instelling hou Steyn se beroepsimpak met afwagting dop.

Lindy Steyn is ʼn trotste Akademia-alumnus wat deur diensbaarheid haar roeping as ʼn betrokke lid van die gemeenskap uitleef.