Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia is die trotse eienaars van die woord “alumni”

Gepubliseer op: 14 Februarie 2022

Akademia het onlangs die woord “alumni” in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) aangekoop. Met die aankoop hiervan word daar opnuut klem gelê op die belangrikheid van die Akademia-alumni vir die instelling. “Alumni” is die vyfde woord wat die instelling besit, nadat die woorde universiteit, dekaan, studentelewe en pionierswerk ook deur Akademia aangekoop is.

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder van Projekte by Akademia, was die besluit om die woord te koop tweeledig. “Om die woord ‘alumni’ in ʼn Afrikaanse woordeboek, soos die WAT te koop, is net nog ʼn klein manier om aan ons alumni ons dankbaarheid te betoon, terwyl daar terselfdertyd in Afrikaans belê word om ons taal te laat voortleef.”

“Ons alumni dra by tot die voortbestaan en uitbou van opvoeding in Afrikaans en ook om tradisies en trots onder ons huidige Fonties (Akademia-studente) te skep,” verduidelik Mari Ferreira, projekkoördineerder: Werkende Mark by Akademia.

Volgens Swanepoel is Akademia besig om ʼn warm alumni-kultuur te kweek. “Ons wil vir alumni ʼn tuiste bied waar hulle gemaklik en hulself kan wees en waarheen hulle kan terugkom, selfs na afloop van hul studies. Wanneer afgestudeerde studente die woord in die woordeboek sien, hoop ons dat dit hulle ook sal herinner aan hul wonderlike studentedae.”

Swanepoel noem verder dat dit vir Akademia belangrik is om haar alumni gebonde aan die instelling te hou en hierdie verhouding verder te kweek. “Ons wil vir alumni van ons instelling geleenthede skep om verder te studeer en ʼn betekenisvolle en vrye toekoms vir hulself en hul gemeenskap te skep.”

Tans word daar aan verskeie opleidings- en netwerkgeleenthede beplan wat Akademia vir alumni wil bied, soos ʼn wyn-aand en motiveringspraatjies. Alumni ontvang ook nuusbriewe om hulle op hoogte van geleenthede en Akademia se doen en late hou, sowel as om meer te hoor oor hoe hulle by die instelling betrokke kan bly. ʼn Nuwe deftige Winkel-reeks word spesiaal vir alumni beplan sodat hulle met trots in die werksplek onderskei kan word met stylvolle produkte en klere-items.

Volgens Swanepoel sien sy Akademia se alumnivereniging oor vyf jaar as ʼn sterk vereniging wat aktief deel is van Akademia se uitbou en groei. Sy hoop ook dat dit sal ontwikkel in ʼn gemeenskap wat op hoogte is van hul mede-alumni en wat mekaar in die werksplek ondersteun en help groei. Alumni wat graag wil terugploeg, kan die Skenkingsfonds ondersteun of selfs poste aan Akademia-studente beskikbaar stel.

Indien jy by Akademia afstudeer het en meer betrokke by jou alma mater wil wees, klik hier om as ʼn trotse ambassadeur deel van die alumnivereniging te word.

Mareli Swanepoel en Mari Ferreira van die Projekteafdeling van Akademia met die amptelike sertifikaat van eienaarskap van die woord “alumni” in die WAT nadat die instelling dit aangekoop het.