Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Geloof, hoop en liefde

Gepubliseer op: 14 Februarie 2022

Geskryf deur dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia.

Die afgelope paar maande is daar gereeld mense wat my kontak vir boekdonasies wat hul wil maak aan die honger Akademia-biblioteek. Ek gaan haal boeke by ʼn oudminister met ʼn rykdom van politieke skrywes, gebinde parlementêre begrotingsredes, spesiale en getekende eksemplare van seldsame boeke. My buurman is ʼn afgetrede wiskundeonderwyser en sy vrou het lank in die Africana-afdeling van ʼn universiteitsbiblioteek gewerk en ek neem hulle boeke na haar voormalige werksplek toe hulle ouetehuis toe trek. My pa het ʼn stoorkamer vol boekskatte, gereed om geskenk te word. Ek gee party van hierdie skenkingsboeke met ʼn swaar hart weg, want ek wil dit self graag hou (en eendag op ʼn reëndag lees), maar my huis is vol boeke en daar is kant tot wal boekrakke in ons ‘biblioteekkamer’. Daar is boeke vol kennis en stories en belangrike feite. Ons in die akademie werk elke dag met kennis – boeke vol en elektroniese joernale vol. Nou draai dit soos ʼn klinkende metaalblikkie in ʼn winderige stofstraat deur my gedagtes: wie gaan eendag my boeke wil hê; gaan ek ooit al die boeke in my biblioteek gelees kry; wat gebeur met alles wat ek nou weet en nog wil weet wanneer ek my kantoordeur of my huisdeur agter my toetrek eendag?

Al besit ek al die kennis, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks, herinner Paulus my. Ek kan geheimenisse deur my navorsing uitpluis en ek kan die tale van mense verstaan en selfs dalk wys wees, maar sonder liefde galm dit van onnodigheid, oorbodigheid en sinneloosheid. Hoe lyk hierdie liefde wat in die plek staan van geleerdheid en kennis en wysheid? Dis ʼn liefde wat mens kan verstaan sonder hoë woorde en geleerdheid. Die boodskap van die kruis is die boodskap van liefde. Paulus noem dat sommige dit as onsin afmaak, maar dís ware kennis: om God te ken en Hom bo alles te stel. Dis daardie liefde wat ons laat ophou boekhou van kwaad, ophou bly wees oor onreg, ophou eie belang soek, grootpraat, verwaand en afgunstig wees. Dis hierdie liefde wat ons onbeholpenheid, hartseer, moedeloosheid en onsekerheid bedek. Dis liefde wat hoop sonder ʼn seker wete of ondersteunende kennis op ʼn mooi toekoms. Dis liefde wat ons die swaarkry laat verdra omdat ons glo dat ons eendag ten volle sal ken.

Dr. Rachel Maritz is die dekaan by Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe en ʼn kenner op die gebied van leierskap.