Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Ons vier die geboorte van die Westerse natuurwetenskappe

Gepubliseer op: 15 Februarie 2022

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe

Die maand Februarie is ʼn feestelike maand vir die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia omdat die twee pioniers wat verantwoordelik was vir die geboorte van die Westerse natuurwetenskappe albei in Februarie gebore is. Nikolaus Kopernikus, ʼn Poolse wis- en sterrekundige, is op 19 Februarie 1473 gebore, terwyl Galileo Galilei, ʼn Italiaanse fisikus op 15 Februarie 1564 gebore is.

Die natuurwetenskappe kan gedefinieer word as die vertakking van die wetenskappe wat gemoeid is met die insameling van kennis, of ons soeke na die waarheid, in die materiële deel van die lewende skepping (biologiese wetenskappe) en die nielewende skepping (fisiese wetenskappe). Omdat die mens, as gevolg van beperkings uit sintuiglike interpretasies en kognitiewe persepsies, nie in staat is om die natuurlike skepping in sy geheel waar te neem of te verstaan nie (ons weet net gedeeltelik), moet ons soeke na kennis in die natuurlike skepping objektief en met groot omsigtigheid gedoen word. Dit is waarom daar na die ruimte van die natuurlike skepping ook verwys word as die objektiewe werklikheid, en waarom ʼn wetenskaplike metode gevolg moet word wanneer kennis oor die objektiewe werklikheid ingesamel word. Die natuurwetenskappe is ʼn betreklike jong wetenskap wat eers sedert die jare 1500 tot 1700 as gevolg van die wetenskaplike revolusie tot stand gekom het.

Deur die vrystelling van sy boek De revolutionbus orbium coelestium (Die omwentelings van die hemelse sfere) waarin hy aangetoon het dat die aarde in werklikheid om die son wentel (die heliosentriese teorie), het Nikolaus Kopernikus ʼn pioniersbydrae gelewer tot die aanvang van die wetenskaplike revolusie. Kort daarna het Galileo Galilei die heliosentriese teorie bewys deur noukeurige sterrekundige waarneming. Hierdie verwikkelinge het die grondslag gelê vir die wetenskaplike metode waaruit die Westerse natuurwetenskappe gebore is.

Dade en denke

In die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia word ons dade, wanneer ons die natuurwetenskappe beoefen of op soek is na kennis uit die objektiewe werklikheid, gekenmerk deur die toepassing van ʼn wetenskaplike metode, geïnspireer deur vadersfigure soos Nikolaus Kopernikus, Galileo Galilei, en natuurlik ook baie ander groot wetenskaplikes wat daarna gevolg het. Daarmee saam word ons denke in hierdie proses, in samehang met ons Christelike geloofsbeskouing, geïnspireer deur die antieke geskrifte van Dawid en Salomo uit die Bybel, waaruit ons leer om met verwondering op te kyk en die Skepper deurentyd te eer vir sy skeppingswerk. Ons kan slegs deur laasgenoemde ware wysheid bekom.

Nikolaus Kopernikus, gebore op
19 Februarie 1473.
Galileo Galilei, gebore op 15 Februarie 1564.