Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia vier Afrikaans as moedertaal op Internasionale Moedertaaldag

Gepubliseer op: 18 Februarie 2022

Internasionale Moedertaaldag word jaarliks dwarsoor die wêreld op 21 Februarie gevier. Ook Akademia vier hierdie spesiale dag met oorgawe. Die doel daarvan is om moedertaalonderrig in ʼn meertalige wêreld te bevorder.

Volgens dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, is Akademia opgewonde oor inisiatiewe wat moedertaal bevorder. Akademia het immers ook ten doel om as Afrikaanse instelling moedertaalonderrig in die wêreld van die hoër onderwys uit te bou. “Internasionale Moedertaaldag gee erkenning aan die belangrikheid van moedertaal en bevestig ons siening dat dit ʼn kernrol speel in die ontwikkeling van denke sowel as persoonlike en kulturele identiteit.”

Akademia strewe daarna om as ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe ʼn akademiese tuiste te skep. “Die Afrikaanse moedertaal as akademiese voertaal maak dit vir ons moontlik om ons waardes van rentmeesterskap, pionierskap en verbondenheid aan ons Afrikaanse gemeenskappe te kan uitleef,” vertel sy.

Moedertaalonderrig in die hoëronderwysomgewing hou verskeie voordele in vir die verskeie aspekte van onderrig en opvoeding. “Moedertaalonderrig bevorder kognitiewe asook sosiale vaardighede. Hoe vaardiger studente met hul moedertale is, hoe meer verdiep hul  verwerwing van kennis en begrip, en hoe meer word sosiale vaardighede tot voordeel van hul toekoms in die werksplek geslyp,” reken Maritz. Sy noem verder dat studente die geleentheid kry om nuwe kennis met bestaande kennis te integreer asook verworwe akademiese konsepte toe te pas in die taal waarin hulle besonder vaardig is, naamlik hulle moedertaal. “Hierdie kennisverwerwing kan nie geïsoleer word van die interaksie met ander studente en dosente nie, en hiervoor is doeltreffende kommunikasie en die selfvertroue wat met moedertaalonderrig kom nodig.”

Verskeie navorsingstudies bevestig die belang van moedertaalonderrig op tersiêre vlak. Volgens Bührmann en Trudell se navorsing* is daar ʼn verband tussen die aantal jare wat studente moedertaalonderrig ontvang het en hulle akademiese prestasie. Dit toon dat studente beter presteer indien hulle langer onderrig in hulle moedertaal ontvang het.

In meertalige lande strek moedertaalonderrig ook tot voordeel van almal, aangesien dit oordrag na ʼn tweede taal makliker maak. “Die konsepvorming vind ook in jou moedertaal plaas, maar die toepassing binne ʼn meertalige omgewing verbreed die student se ervaring,” sê Maritz. Sy noem verder dat meertaligheid vir studente die kans gee om van handboeke en inligtingsbronne in ander tale gebruik te maak asook kennis in ʼn internasionale omgewing toe te pas.

“Ek het self in Afrikaans, my moedertaal, studeer en dit het my die kans gegee om my kreatiwiteit te ontdek. Dit het my die selfvertroue gegee om my denke te kon slyp in ʼn taal waarin ek gemaklik was. Dit het my vrymoedigheid gegee om binne die werksplek my vaardighede verder te ontwikkel en meer verantwoordelikhede te aanvaar”, noem sy.

“Moedertaal is egter ook ʼn belangrike simbool van identiteit waardeur dosente en studente persoonlike en kulturele identiteit in ʼn onderrigomgewing ontwikkel. Studente kom met behulp van hul moedertaal tuis in ʼn leeromgewing wat deur ʼn eie unieke etos, karakter en waardes gekenmerk word. Dit is wat ons vir ons studente toewens,” sluit sy af.

*Bührnmann, D. en Trudell, B. 2008. Mother tongue matters: Local language as a key to effective learning. Parys: Unesco.

Akademia skep die geleentheid vir studente om in hul moedertaal ʼn kwalifikasie van hoë gehalte te voltooi en as afgeronde volwassenes die werksplek te betree.