Search
Close this search box.

Oekraïens-Russiese krisis in retrospeksie: Lesse van Versailles

Gepubliseer op: 22 Februarie 2022

Geskryf deur Jean-Jacques Boshoff, dosent in Sosiale Wetenskappe

Die dreigende diplomatieke krisis op die Oekraïens-Russiese grens die afgelope week dui op die vrees van grootskaalse militêre konflik in die Oekraïne. Hierdie diplomatieke krisis is egter nie ʼn onlangse politieke vraagstuk nie, maar die ontstaan daarvan kan teruggespoor word na die einde van die Koue Oorlog. Die ervaring uit die verlede wys egter daarop dat die ontbinding van die Sowjetunie moontlik ʼn gulde geleentheid kon gewees het vir die Weste om deur grootmoedigheid die tipe misrekening soortgelyk aan die 1919 Versailles-verdrag te kon vermy.

Ná die ontbinding van die Sowjetunie het dit duidelik geword dat Rusland nie sou deel vorm van die Weste se Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) nie en dat die Weste nie Rusland wou verwelkom nie. Rusland het ná die ontbinding van die Sowjetunie die bestaansreg van NAVO betwyfel en was krities oor die moontlike uitbreiding van NAVO in die streek. Hierdie sentiment het homself gisteraand weer herhaal toe Wladimir Poetin in sy uitgerekte griewetoespraak oor NAVO se oostelike uitbreiding gevra het: “Hoekom was dit nodig om ʼn vyand van ons te maak … Hulle wou nie so ʼn groot, onafhanklike land soos Rusland hê nie.” Alhoewel George H.W. Bush in die vroeër 90’s die Sowjetleier Michail Gorbatsjof probeer versekering bied het dat NAVO nie verder sal uitbrei nie, het NAVO sedert 1999 met veertien lidlande uitgebrei.

Soortgelyke vraagstukke van integrasie en versoening tussen state kan ook in die geskiedenis gevind word. Van die mees invloedryke diplomatieke prosesse van versoening en integrasie sluit in die Kongres van Wene (1814) en die onsuksesvolle Verdrag van Versailles in 1919. Dit is spesifiek die Parys-vredeskonferensie as voorloper tot die Versailles-verdrag wat as diplomatieke antitesis die belangrikheid van grootmoedigheid beklemtoon. Gedurende die Parys-vredeskonferensie van 1919 het een van die sleutelonderhandelaars, Jan Smuts, herhaaldelik aan Loyd George geskryf om hom te waarsku teen die vernietiging en marginalisering van Duitsland omdat dit tot meer konflik en onstabiliteit sou kon lei.

Die Verdrag van Versailles was ʼn oorwinning vir die geallieerdes maar sou Duitsland ekonomiese vernietig en vervreem, wat later sou bydra tot die opkoms van nazisme en uiteindelik die grootskaalse militêre konflik van die Tweede Wêreldoorlog. Die geallieerdes het deur die Versailles-verdrag die oorlog gewen maar die vrede verloor. Dit is moeilik om nie te wil dink aan die Oekraïens-Russiese krisis en hoe anders die politiek sou lyk in die streek nie as die NAVO ontbind het ná die einde van die Koue Oorlog en sy hand uitgereik het na die Sowjetunie.

Jean-Jacques Boshoff is ʼn dosent in Sosiale Wetenskappe en ʼn kenner op die gebied van politiek.