Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia vier Hardopleesdag – Waarom is dit belangrik?

Gepubliseer op: 2 Februarie 2022

Geskryf deur Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia

Wêreldhardlopleesdag word elke jaar op die eerste Woensdag in Februarie gevier. Vanjaar word dit op 2 Februarie gevier. LitWorld het die veldtog in 2010 begin om voorspraak te maak vir toegang tot geletterdheid en diverse verhale. Dit gaan ook oor die krag van hardop lees – ʼn aktiwiteit wat ʼn enorme impak op kinders se ontwikkeling het.

Die struktuur van ʼn interaktiewe hardopleessessie sal wees om die teks in te lei, dit te lees en dan te bespreek. Hardop lees help kinders leer hoe om taal te gebruik om sin van die wêreld te maak, dit verbeter hulle inligtingsverwerkingsvaardighede, woordeskat, asook hulle begrip.

Waarom is lees oor die algemeen belangrik? Studies toon dat lees vir plesier ʼn groot verskil maak in kinders se opvoedkundige prestasie. Insgelyks dui navorsing daarop dat kinders wat elke dag vir plesier lees beter in leestoetse vaar as diegene wat nie vir plesier lees nie. Selfs ouers kan ʼn rol speel as hulle hardop lees, want voor babas gebore word, leer hulle om hulle ouers se stemme te herken. Deur vir babas van geboorte af te lees gee dit hulle die gerusstelling as hulle jou stem hoor en dit vergroot hulle blootstelling aan taal.

Om te leer om te lees gaan oor luister en verstaan, asook om uit te werk wat op die bladsy gedruk staan. Deur na stories te luister word kinders blootgestel aan ʼn wye spektrum woorde. Dit help hulle om hulle woordeskat te bou en hulle begrip te verbeter – dit is alles belangrike boustene as hulle leer om te lees. Kinders het nodig om te verstaan hoe stories werk. Selfs as jou kinders nie elke woord verstaan nie, sal hulle nuwe klanke, woorde en frases hoor wat hulle kan probeer naboots.

Hardopleesaktiwiteite sluit in:

  • Navorsing oor die agtergrond van die boek.
  • Die skep van kuns geïnspireer deur die storie.
  • Die opvoering van ʼn toneel uit die boek.
  • Die maak van kos wat in die boek genoem word.

 

Wêreldhardlopleesdag motiveer kinders, tieners en volwassenes om die krag van woorde te vier. Hierdie wêreldwye geletterdheidsbeweging is ʼn wekroep om die wêreld te wys dat almal die reg het om te lees en te skryf.

Lianda Coetzer is die bibliotekaris by Akademia en ʼn groot voorstander van Afrikaanse boeke en die lees daarvan.