Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Hoe kan jy jou digitale veiligheid opskerp in 2022?

Gepubliseer op: 31 Januarie 2022

Geskryf deur Jaco-Louis Kruger, stelselontwikkelaar en deeltydse dosent by Akademia

Daar is elke dag miljoene digitale aanvalle op stelsels en individue waar kwaadwillige persone en stelsels poog om toegang te kry tot data of fondse wat nie aan hulle behoort nie. Ons het almal al iewers ʼn e-pos gekry wat ons vertel dat ons miljoene rande gewen het in ʼn lootjiekompetisie waarvoor ons nie eers ingeskryf het nie, of selfs dat geld aan ons bemaak is, maar dan ken ons nie eers die persoon nie. Sou jy dan reageer op die e-pos en die stappe volg om die fondse beskikbaar te stel, sal jy iewers in die proses gevra word om ʼn “administrasie”-fooi te betaal om die fondse aan jou te bemaak. Nadat jy die betaling gemaak het, hoor jy nooit weer van die fondse wat kamstig aan jou bemaak is nie.

Kwaadwillige stelsels en individue poog al hoe meer om eerder die gebruiker uit te buit, as om die stelsels wat ons gebruik aan te val, om toegang te kry tot data en stelsels wat hulle nie normaalweg gemagtig is om te gebruik nie. Dit raak dus al hoe meer belangrik dat gebruikers hulleself beskerm deur hulle persoonlike kubersekuriteit te verhoog. Hiermee ʼn paar wenke om jou digitale veiligheid in 2022 op te skerp:

  1. Gebruik sterk wagwoorde. Dit bly een van die bekendste wenke om digitale veiligheid op te skerp, maar die belangrikheid daarvan kan nie genoeg beklemtoon word nie. Maak seker dat jy wagwoorde gebruik wat glad nie relevant is tot jou as mens of jou omgewing nie. Moet dus nie jou geliefde of jou troeteldiere se name gebruik in wagwoorde nie. Hoe langer die wagwoord, hoe beter. Kies dus vir jou ʼn lang wagwoord wat moeilik is om te raai, met soveel moontlik vreemde karakters, soos bv. @, *, = en ^.
  2. Gebruik unieke wagwoorde vir elke stelsel. Daar is gereeld datalekkasies waar gebruikers se intekenbesonderhede uitgelek word. Indien jy ʼn maklike, of bekende wagwoord gebruik, is die kanse baie groot dat iemand jou wagwoord kan raai en toegang kan kry tot die stelsels waar jy ingeteken het. Dink net aan die nagevolge indien iemand toegang kan verkry tot jou e-posse. Die gebruiker kan dalk toegang verkry tot jou bankstate, skakels om jou wagwoorde te verander op ander stelsels en selfs ander mense kontak onder jou naam (met kwaadwillige intensies natuurlik).
  3. Maak gebruik van multifaktorverifikasie waar moontlik. Multifaktorverifikasie is waar jy op meer as een manier bevestig dat jy wel die werklike gebruiker is wat probeer gebruik maak van ʼn stelsel. Jy gaan dus ʼn wagwoord invul op ʼn stelsel, sowel as toestemming gee op ʼn slimfoontoep dat jy gebruik wil maak van die stelsel. ʼn Ander opsie is ook om ʼn kode per SMS te ontvang op jou slimfoon wat jy dan moet insleutel op die stelsel om toegang te verkry tot die stelsel. Multifaktorverifikasie keer dus dat enige iemand wat moontlik jou wagwoord het, kan inteken op jou stelsels, aangesien jy nog ʼn vlak van toestemming moet gee voordat iemand kan inteken.

 

Indien jy nog meer wil weet, luister hier na die #KennersPraat-podsending met Jaco-Louis Kruger oor die veiligheid van jou persoonlike data wat jy aanlyn stoor of deel.

Jaco-Louis Kruger is ʼn stelselontwikkelaar en deeltydse dosent by Akademia en ʼn kenner op die gebied van digitale veiligheid.