Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia-alumnus vertel oor haar reis van Fontie tot werknemer

Gepubliseer op: 31 Januarie 2022

Geskryf deur Jolinda Bezuidenhout, Akademia-alumnus in BCom (Ondernemingsbestuur)

Om ʼn hoëronderwysinstelling te kies om jou studies by te begin is geen maklik taak nie. Daar is so baie verskillende instellings, en soveel meer kwalifikasies om van te kies, maar Akademia het van die begin af vir my uitgestaan bo die ander. Een van die verskeie redes is dat ek in my moedertaal kon klas draf asook nauurs studeer. Ek het in 2018 my aansoek ingestuur en met angs en opwinding gewag om te hoor of ek keuring gekry het. In Augustus van daardie jaar het ek die brief gekry wat gesê het ek was aanvaar en so het my hele studieloopbaan begin.

Ek het ingeskryf vir die BCom (Ondernemingsbestuur)-graad en kon nie wag om te begin nie. Die eerste klas was baie oorweldigend, maar die dosente het hulle uiterste bes probeer om ons gemaklik te maak deur om grappe te vertel of selfs vir ons kort inspirerende video’s te wys aan die begin van elke klas. Ek het van die begin af gemaklik en tuis gevoel. Die lekkerste deel van die klasse is dat daar opinies van mense in verskeie ouderdomsgroepe (asook beroepe) gedeel was.

Die jaar 2020 was verseker ʼn uitdaging met Covid-19 saam, maar dit het nie Akademia-studente gekeer om ten volle te studeer nie. Ons klasse kon aanlyn voortgaan. Ons take en toetse het ook seepglad verloop. Die Akademia-personeel het uit hulle pad gegaan om te hoor of ons enige ondersteuning nodig het wat vir my ʼn baie spesiale manier van omgee was. Ek het aan die einde van die grendeltydperk ingeskryf vir die ambassadeursprogram wat soveel deure vir my oopgemaak het. As ʼn ambassadeur is ek die geleentheid gebied om verskeie internskappe by Akademia (asook ander instellings) te kon voltooi wat my eerstehandse ervaring gegee het van my betrokke studieveld.

Ek het aan die einde van 2021 klaar gemaak met my graad. Dit was ʼn bittersoet oomblik om afskeid te neem van almal by Akademia: my dosente, die personeel maar veral my medestudente wat my deur die tyd gedra en bygestaan het. Ek werk nou by H. Kampman Boukontrakteurs danksy ʼn advertensie wat deur die werkgewer op Akademia se studenteposteportaal geplaas is. Ek is baie opgewonde oor die res van my loopbaanreis en is trots om nou my plek as Akademia-alumnus vol te staan.

Jolinda Bezuidenhout is ʼn Akademia-alumnus in BCom (Ondernemingsbestuur) en vertel dat sy haar studiereis as nauurse student ten volle geniet het.