Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Huiskomitees vir 2022/23 aangewys om koshuislewe by Akademia te bevorder

Gepubliseer op: 27 September 2022

Akademia se huiskomitees (HK’s) vir die 2022/2023-termyn is tydens ʼn koshuisdinee op 17 September aangekondig. Die nuwe HK’s staan gereed om die koshuislewe vir Akademia-studente se drie koshuise: Huis Valorem (gemeng), Huis Hennops (mans) en Huis Strelitzia (dames), vir alle koshuis-Fonties opwindend en verwelkomend te maak.

Volgens Douard d’Assonville, studentesakekoördineerder by Akademia, is die HK’s belangrik vir die uitbreiding van ʼn bruisende en gestruktureerde koshuislewe. “Die huiskomitee is deurslaggewend vir die ontwikkeling van die verhoudings tussen daghuisstudente en om ʼn tuiste weg van die huis af wat Akademia se waardes en opvoedingsideaal uitleef te skep.”

Die rol van ʼn HK is om die studentelewe by Akademia te help groei en te implementeer, sowel as om ʼn stem vir die studente te wees. “Akademia se studentelewe is nog in sy kinderskoene en die HK’s sien daarna uit om die studentelewe saam met hul mede-Fonties te bevorder,” vertel d’Assonville.

Daar is ʼn deeglike proses gevolg om die nuwe HK’s te verkies. Nominasies vir die HK’s het oopgemaak waarna die studentesakekomitee (Jenna-Bleu Heystek, SR: Koshuisraad, Tinus Dodds, koshuisouer, Yolandé Dodds, koshuisouer, Paul Smit, wat leierskapsontwikkeling en lewensafrigting aan studente bied, en d’Assonville) onderhoude met elk van die kandidate gevoer het. Die keuringspan het toe ʼn kortlys saamgestel van die topkandidate. Daarna kon alle Fonties vir hul gunstelingkandidate op papier stem ná afloop van ʼn publieke koshuisswete.

Die HK-lede by Huis Valorem, ʼn gemengde koshuis wat geleë is by Akademia se Centurion-kampus, vir die 2022/2023-termyn en hul portefeuljes is as volg toegeken:

Dylan Wagner: Primarius en Studenteondersteuning
Janda-Marie Bezuidenhout: Onderprimaria, Daghuis en Finansies
Caylin du Plooy: Sekretaresse en Akademie
Raino Botha: Seniors, Instandhouding, Bemarking en Kommunikasie
Marco Steenkamp: Klerasie, Sosiaal en Instandhouding

Die HK-lede by Huis Strelitzia, die dameskoshuis wat by koshuis@Leriba geleë is, vir die 2022/2023-termyn en hul portefeuljes is as volg toegeken:

Bóchulè Swanepoel: Primaria, Studenteondersteuning en Klerasie
Marzé Becker: Onderprimaria, Finansies, Akademie en Seniors
Kayla van der Ryst: Sekretaresse, Instandhouding en Gemeenskap
Cara Kamfer: Eerstejaars, Sosiaal, Bemarking en Kommunikasie

Die HK-lede by Huis Hennopsmanskoshuis wat by koshuis@Leriba geleë is, vir die 2022/2023-termyn en hul portefeuljes is as volg toegeken:

Dandré Nortjé: Primarius en Studenteondersteuning
Christiaan Wessels: Onderprimarius, Finansies, Akademie en Seniors
Cameron Ungerer: Eerstejaars, Sosiaal en Bemarking en Kommunikasie
Janku van der Merwe: Sekretaris, Instandhouding en Gemeenskap

Volgens d’Assonville is die nuutverkose HK’s ʼn sterk groep. “Hulle het goeie karaktereienskappe. Ons sien uit om saam met hulle aan die koshuislewe te bou,” sluit d’Assonville af.

Baie geluk aan die nuwe HK-lede wat hierdie termyn hul koshuise en medestudente gaan dien.