Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Blou Bul-speler studeer Ondernemingsbestuur nauurs by Akademia

Gepubliseer op: 28 September 2022

Reinhardt Ludwig is ʼn eerstejaar-BCom (Ondernemingsbestuur)-student op Akademia se nauurse afstandsmodel. Hy is ook ʼn raakvat rugbyspeler wat vir die Blou Bul Rugbyunie uitdraf.

Sy liefde vir sport kom al van jongs af. “Ek het van kleins af rugbyballe bo karretjies en blokkies verkies en het al vroeg in die laerskool my rugbyloopbaan met bulletjierugby afgeskop.” Ludwig is in 2018 verkies tot die o. 16-Gautengspan en is in 2019 verkies tot die Cravenweek-vyftientalspan. Hy het ná skool sy kontrak by die Blou Bulle ontvang en was ook bevoorreg om in 2021 en 2022 vir die Junior Springbokke te kon uitdraf.

Volgens Ludwig het ʼn rugbyloopbaan egter altyd ʼn afsnydatum en daarom het hy besluit om BCom (Ondernemingsbestuur) te studeer sodat hy sy eie besigheid kan begin. Hy glo dat hierdie kwalifikasie ʼn goeie begin is vir ʼn entrepreneur aangesien dit aan die student die basiese besigheidsbestuurbeginsels leer. “Ek wil steeds ʼn inkomste kan verdien indien my rugbyloopbaan deur ʼn besering kortgeknip word sodat ek steeds vir my gesin sal kan omsien, daarom het ek die keuse gemaak om nou te studeer.”

Hy ervaar die nauurse afstandsmodel van Akademia as komplementerend tot sy rugbyloopbaan. “Ek het besluit om by Akademia te studeer omrede hulle voorsiening maak vir mense soos ek wat ʼn voltydse werk het. Met Akademia se e-leeropsie is dit baie maklik om ná rugbyoefening my klasse by te woon, te leer en ook toetse te skryf.”

Hy vertel verder dat dit nie altyd maklik is om ʼn voltydse sportloopbaan met studies te balanseer nie, maar dat dit beslis moontlik is wanneer mens harde werk insit en weet wat die doel is wat jy wil bereik.

Alhoewel sy familie nie juis sport beoefen nie, is hulle altyd langs die veld te sien wanneer Ludwig ʼn wedstryd speel. “My familie en geliefde is altyd daar vir my, op of af van die rugbyveld af. Hulle stap altyd die ekstra myl wanneer ek hul nodig het.”

Om deel van die Blou Bul-span te wees, is vir Ludwig ʼn groot voorreg. “Daar is ongelooflike goeie afrigters en ervare spelers by wie mens elke dag leer. Die omgewing is kompeterend, maar ook gesond en ek is dankbaar om in die span te kan groei.”

Ludwig se raad aan mense wat ʼn liefde vir sport het, maar ook wil studeer is om ʼn aan ʼn tweede loopbaanopsie te bou deur studies aan te pak terwyl jy jou sportdrome najaag. “Mens moet besef dat beserings en ouderdom altyd ʼn faktor is in die sportbedryf en daarom moet mens op ʼn tweede loopbaan kan terugval.”

Ludwig se hoofdoelwit is om te groei as rugbyspeler en elke dag te verbeter op die vorige dag. “My grootste droom is natuurlik om vir die Springbokke te speel en met harde werk en deursettingsvermoë is dit moontlik om daardie droom na te jaag.” Ludwig sien ook uit om binne die volgende paar jaar sy graad te voltooi en ʼn suksesvolle besigheid op die been te bring. Akademia hou sy loopbaan met afwagting en trots dop en sien uit na elke sukses vorentoe.

Reinhardt Ludwig is ʼn Blou Bul-rugbyspeler en daarby ook ʼn eerstejaar-BCom (Ondernemingsbestuur)-student by Akademia.