Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Internasionale Koffiedag – Akademia stel Die Pionier bekend

Gepubliseer op: 1 Oktober 2022

Akademia stel vanjaar Die Pionier, ʼn spesiale ontbytkoffiemengsel, bekend ter viering van ʼn dekade se pionierswerk. Die Pionier bestaan uit twee versnitte, ʼn dompelpotkoffieversnit asook ʼn vriesgedroogte versnit. Hierdie spesiale koffie word vanaf 1 Oktober, wat ook as Internasionale Koffiedag bekendstaan, op Akademia se aanlyn winkel, Die Winkel, verkoop.

Die Pionier is ʼn klassieke koffieversnit wat deur Wiesenhof Coffee Roastery gerooster is. “Koffie is een van die gewildste drankies ter wêreld. Die ontbytmengsel wat ons vir Akademia gerooster het, is ʼn fantastiese keuse vir koffieliefhebbers,” vertel Kobus Wiese, bekende oud-Springbokspeler en eienaar van Wiesenhof. Hy het besluit om Die Pionier saam met Akademia uit te bring omrede Wiese trots Afrikaans is en Die Pionier ook ʼn trotse Afrikaanse produk is. “Die verpakking van Die Pionier is pragtig en dit gaan vir seker aanklank vind by alle koffiedrinkers,” vertel hy verder.

Akademia-personeel en Fonties, het die geleentheid gekry om by Wiese meer oor koffie te leer gedurende ʼn proesessie wat vroeër vanjaar plaasgevind het. Hier kon beide personeel en Fonties stem vir die geur van Die Pionier wat Wiesenhof saamgestel het. “Ons is deur die proe-proses met die dompelpotkoffie en het sonder twyfel die ontbytmengsel gekies,” vertel Leah van Heerden, projekkoördineerder by Akademia.

Daarna het personeellede en Fonties ook die naam van dié koffie uitgedink. So is Die Pionier toe gekies. Van Heerden sê ook dat dit ʼn maklike keuse was om saam met Wiesenhof die koffie uit te bring. “Wiesenhof se koffie is uit die boonste rakke. Hulle is ʼn baie goeie handelsmerk om mee hande te vat.”

Van Heerden noem verder dat daar baie ooreenkomste tussen Die Pionier en Akademia is. “Die Pionier pas so mooi by Akademia. Die woord pionier beteken om vooruit te beweeg en Akademia beweeg teen ʼn snelle pas vorentoe.”

Sy moedig koffieliefhebbers aan om Die Pionier te koop aangesien dit ʼn eenmaal-in-ʼn-leeftyd dompelpotkoffieversnit is en sy noem verder dat “net soos die delikate roosterproses wat gevolg is om dié besondere ontbytmengsel te vervaardig, simboliseer hierdie koffie die pionierswerk wat Akademia oor meer as ʼn dekade verrig het”.

Die Pionier, koffie vir ʼn dompelpot, asook vriesgedroog, is reeds op Die Winkel beskikbaar. Die dompelpotkoffie is teen R100 te koop en die vriesgedroog is teen R55 te koop. Klik hier om jou koffiemengsel te koop.

Akademia stel Die Pionier bekend. Die Pionier is deur Wiesenhof vir ʼn dompelpot sowel as vriesgedroog saamgestel ter viering van Akademia se tien jaar van klasgee.