Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Natuurwetenskappe begin spesiale groenvoetspoor-inisiatief tydens Boomplantmaand

Gepubliseer op: 16 September 2022

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe

Met lente in die lug, en September as Boomplantmaand, het die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia besluit om ʼn spesiale groenvoetspoor-inisiatief van stapel te stuur. Hierdie inisiatief het ten doel om honderde inheemse boompies te begin kweek wat uiteindelik tot volwaardige bome op Akademia se toekomstige kampus sal groei.

Die denke en hart in die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia word alreeds simbolies gekoppel aan die groeifases van ʼn boom, naamlik die wortels, die stam, die blare en die blomme. Daarby herinner die treffende gedig “Vergewe en vergeet”  van Totius ons aan ons innerlike krag om deur moeilike omstandighede steeds te groei en te presteer, deur te verwys na die groei van ʼn gekweste Afrika-doringboompie. Beide hierdie simboliese gedagtes het gelei tot die vestiging van hierdie boomkweek-inisiatief.

Omdat koshuis@Leriba reeds spog met pragtige tuine van inheemse bome, verleen die terrein hom op hierdie vroeë stadium as bodem waarvan daar ʼn verskeidenheid van inheemse bome uitgeplant en gekweek kan word. Hierdie bome kan dan ook in houers gehuisves word om tot volwasse bome te groei.

Die gebouontwerpe en tuinuitleg van die nuwe kampus wat aan die ooste van Pretoria beplan word vorm albei ʼn integrale deel van die argitektuurontwerp. Daarom word die boomsoorte wat op die parkeerterreine en om die geboue aangeplant mag word ook deur die argiteksplan gestipuleer. Dit verhinder egter nie die fakulteit om solank van die mees gepaste inheemse bome te begin kweek en groei nie, en om daardeur selfs aanbevelings aan die argitekte te maak oor die boomsoorte wat reeds beskikbaar is nie.

Daarbenewens sal die vroegtydige aanplant en kweek van groter bome ook daartoe bydra dat die kampus gouer omskep kan word in ʼn groen inheemse paradys, wat daarby ook aanleiding kan gee tot aansienlike kostebesparings. Van die oorblywende bome kan nog steeds aangeplant word in ons toekomstige botaniese tuine, asook in die koppies en pragtige bosveldterrein om die beplande kampusuitleg. Sodoende kan Akademia al reeds van vroeg af al begin om as deel van die beplanning, groei en karakter ʼn groen voetspoor na te laat.

Jonas Seema (werknemer by Akademia), prof. Hannes Rautenbach (dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe) en Tinus Dodds (toesighouerkoördineerder) by die eerste olienhout- en bergkareeboompies wat uit die Leriba-tuine oorgeplant is.