Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Sekretaressedag: Wenke oor hoe om op hoogte van nuwe tendense te bly

Gepubliseer op: 7 September 2022

Om ʼn kantoorpraktisyn te wees, is ʼn werk met baie verantwoordelikheid en jy is dikwels die spil waarom ʼn besigheid draai! Dit is op 7 September Sekretaressedag en daarom vier Akademia elke kantoorpraktisyn en Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie-student vir die waardevolle bydrae wat hulle tot hul werksplek lewer.

Volgens Helena Bekker, persoonlike assistent by Akademia, moet iemand wat in die administratiewe veld werk, inisiatief kan neem binne sy of haar kapasiteit en verantwoordelikheid neem vir wat daarmee gepaardgaan. “Indien jy in die administratiewe wêreld werk, moet jy ook op hoogte bly van nuwe tendense in die rigting,” vertel sy.

Hier is vyf praktiese wenke oor hoe om op die voorpunt van jou veld te bly:

  • Gilde vir netwerkgeleenthede

Raak betrokke by ʼn netwerk van persone wat dieselfde beroep as jy deel. Solidariteit het ʼn gilde vir kantoorpraktisyns waar jy heerlik kan netwerk, wenke kan uitruil en met mense kan gesels wat jou werkswêreld verstaan. Hulle het ook jaarliks ʼn Kantoorkampioenkompetisie – raak betrokke en wie weet, dalk is jy die volgende kantoorkampioen!

  • Doen navorsing oor nuwe tendense

Die internet hou deesdae baie waardevolle inligting vir kantoorpraktisyns in. Lees op oor nuwe toeps wat liasseerwerk en ander administratiewe sake vergemaklik en stel dit op die proef. Dit kan dalk net jou werk vergemaklik.

  • Skryf in vir kortkursusse

Daar is baie platforms waar ʼn persoon deesdae aanlyn of in persoon ʼn kortkursus kan voltooi wat vir jou nuwe kennis en vaardighede bied. S-Leer, Udemy en GetSmarter is voorbeelde van hierdie platforms waar jy jou vaardighede kan slyp.

  • Kry ʼn mentor of wees ʼn mentor

Om verhoudings te bou met persone wat dieselfde werk as jy doen, sal tot jou voordeel strek. Of jy ʼn mentor is vir iemand wat minder ervare is, en of jy self ʼn gementor word, jy sal altyd iets by die ander persoon kan leer.

  • Rond jou ervaring met ʼn formele kwalifikasie af

Jy kan ʼn gehalte kwalifikasie in kantooradministrasie by Akademia voltooi terwyl jy werk. Die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie wat op die nauurse afstandsmodel aangebied word, is ʼn gewilde studierigting vir persone met ’n belangstelling in moderne kantooradministrasie en -bestuur. Studieaansoeke vir 2023 is reeds oop. Klik hier vir meer inligting.

Op Sekretaressedag sê ons dankie aan elke sekretaresse, persoonlike assistent, ontvangsdame en kantoorpraktisyn wat ons land se besighede bymekaarhou. Soos die skrywer Anthony J. D’Angelo sê: “Wees altyd gaaf met sekretaresses. Hulle is die ware hekwagters van die wêreld.”