Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Nasionale Boekweek: ʼn Kort reis deur die biblioteek

Gepubliseer op: 5 September 2022

Geskryf deur Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia se mediasentrum

Gedurende Nasionale Boekweek wat plaasvind vanaf 5 tot 11 September 2022 word die fokus gevestig op die uniekheid van boeke en hoe boeke eintlik ons beste vriende is. Ons besef voorts dat ons nooit verveeld of eensaam is wanneer ons deur boeke omring word nie, net soos wanneer ons in die geselskap van goeie maats is.

Ek nooi jou uit om ʼn oomblik stil te raak en saam met my deur die skatkamers van die biblioteek te stap sodat ek jou kan wys hoe boeke kosbare metgeselle op jou lewensreis kan wees.

Die lewe bied unieke uitdagings vir elkeen en dan reik ons na die Bybel om vir ons riglyne te gee vir ons elke dag se realiteit. As die lewe se laste swaar druk, kan ons na die boekrak uitreik en die boek van Rick Warren, Die doelgerigte lewe, konsulteer wat meer as 30 miljoen eksemplare verkoop het. Dit sal jou op ʼn persoonlike reis van 40 dae neem en jou weer te laat besef wat ons doel hier op aarde is.

As ons bietjie verder deur die skatkamers van die biblioteek stap, mag jy dalk dink aan al die kruispaaie in jou lewe. Dalk staan jy nou by ʼn kruispad waar jy ʼn groot besluit moet neem. Dan is die boek van Izak Burger et al., Hoe om die regte besluite te neem, jou raadgewer en kan jy by ander se lewenservarings leer hoe om die regte besluite te neem.

Afrikanerwees vloei sterk deur ons are en so is ons humor ook eg Suid-Afrikaans. Bekroonde Afrikaanse skrywers soos Herman Charles Bosman het van die Suid-Afrikaanse humor in sy boek Beste verhale en humor van Herman Charles Bosman vir ons opgeteken. Terwyl die humor ʼn glimlag om ons mondhoeke laat verskyn, dink ons ook onwillekeurig terug aan die geskiedenis van ons voorouers. Die Vriende van Afrikaans het die boek Dae uit ons geskiedenis saamgestel wat jou op ʼn Afrikaanse kultuur-historiese reis sal neem met ʼn magdom vertellings en gebeure uit die verlede wat ʼn invloed op Afrikaanssprekendes gehad het. ʼn Wonderlike geskiedkundige vriend wat ons help om die verlede te onthou en voort te bou op ons unieke Suid-Afrikaanse tradisies.

Jou grootste bondgenoot in jou akademiese reis is ongetwyfeld al die handboeke en naslaanbronne wat jy in die biblioteek sal vind. Gedurende jou akademiese jare sal jy uitvind dat jou boeke getrou is en jou nooit in die steek sal laat nie! As jy getrou studeer en op die ondersteuning van jou boekvriende staatmaak, sal jy groot sukses in jou akademiese reis behaal.

Die grootste geskenk wat jy ooit vir jou kind kan gee, is ʼn liefde vir lees. In die skatkamers van die biblioteek sal jy ʼn spesiale afdeling vind wat gevul is met boeke vol fantasieë soos Annelize Bester se boek Reënboogfeetjie se ongeluk. ʼn Liefde vir lees begin by die ouer wat daagliks vir kinders lees uit pragtige geïllustreerde boeke.

Ek hoop hierdie kort reis het jou weer laat verlang na al jou getroue boekvriende wat deur die jare die pad getrou saam met jou gestap het. Mag jy gedurende Nasionale Boekweek nuwe boesemvriende ontdek en die kennis daarvan met ander deel.

Lianda Coetzer is die passievolle bibliotekaris by Akademia se mediasentrum met ʼn liefde vir boeke en hul stories.