Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Wenner van die 2022- BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie bekendgemaak

Gepubliseer op: 1 September 2022

Akademia het 1 September 2022, gedurende ʼn aandgeleentheid, die wenner van die BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie aangewys. Die wenner is Carami van der Vyver en haar besigheid, Heart of Courage. Die besigheid is ʼn leefstylbesigheid wat fisiese opvoedingsprogramme en kognitiewe, sielkundige sessies aanbied deur gebruik te maak van gespesialiseerde metodes.

Elke besigheid moes ʼn sakeplan voorlê aan ʼn ervare paneel waarna die wenner van die kompetisie aangewys is. Van der Vyver is ná afloop van die sakeplanvoorleggings wat deur die top-3-finaliste voorgehou is by koshuis@Leriba aangekondig.

Volgens Monique Visser, programkoördineerder van BCom (Ondernemingsbestuur) by Akademia, is die doel van die jaarlikse sakeplankompetisie om aan Fonties die geleentheid te bied om eerstehandse ervaring op te doen om hulle eie besigheid op die been te bring. “Ons studente leer baie vaardighede in die BCom (Ondernemingsbestuur)-program en dit is ʼn groot voorreg om ʼn platform soos die sakeplankompetisie daar te kan stel waar die Fonties die vaardighede prakties kan uitleef.”

Van der Vyver stap weg met groot pryse. Die besigheid wen die volgende:

  • R50 000 se prysgeld geborg deur Solidariteit Jeug;
  • ʼn ActionCoach-sessie met dr. Thabo Pitse ter waarde van R5 500;
  • ʼn Groot FM-toer vir mediablootstelling;
  • ʼn Outomatiese inskrywing vir die finale ronde van AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie 2022;
  • ʼn Kontantprys van R1 000 geborg deur Van Schaiks;
  • ʼn Kursus ter waarde van R 5 000 geborg deur Maryna Stevenson Peronal Development; en
  • ʼn Geskenkpak van Arke Creative Solutions.

 

Beide naaswenners (La Essence Creations en Core Quantum Technologies) ontvang die volgende pryse:

  • R10 000 se prysgeld van JTB Consulting;
  • ʼn ActionCoach-sessie met dr. Thabo Pitse ter waarde van R5 500;
  • ʼn Groot FM-toer vir mediablootstelling; en
  • ʼn Geskenkpak van Arke Creative Solutions.

 

Die paneel wat die finale besluit geneem het om die wenner aan te kondig is kenners in hul onderskeie velde wat waardevolle terugvoer aan die finaliste gegee het. Die paneellede was: Sarita Gerber, programkoördineerder vir LLB en dosent in Regsgeleerdheid; dr. Thommie Burger, gesertifiseerde finansiëlemodellerings- en sakewaardasieontleder van JTB Consulting; Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk; Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton; Mareli Bothma, bestuurder van Solidariteit Jeug; en Danie Marais, senior kredietbestuurder van Absa.

Daar is na verskeie aspekte van die sakeplanne gekyk. Volgens Burger was die oorspronklikheid van die besigheidsidee geëvalueer en is daar bepaal of ʼn werklike behoefte aan die produk of diens in die mark bestaan. Vir Schalekamp was die belangrikste aspek van die wennerbesigheidsplan of die plan “prakties uitvoerbaar is en werklik skaalbaar is”.

Die kompetisie het vanjaar vir die derde opeenvolgende jaar plaasgevind en volgens Visser word daar gepoog om die kompetisie ʼn jaarlikse instelling binne die BCom (Ondernemingsbestuur)-program te maak. “By Akademia maak ons vir studente deure na die toekoms oop,” het sy gesê.

Akademia wens Van der Vyver alle voorspoed toe met haar voorbereiding vir die finale ronde van die Entrepreneur van die jaar-kompetisie.

Die panneellede van die jaar se BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie.
Die wenner vir die BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie is bekendgemaak en dring deur na die finale ronde van die Entrepreneur van die jaar kompetisie wat op 29 September 2022 plaasvind.