Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-kundiges geloof vir nuwe Afrikaanse handboek oor kurrikulumstudies

Gepubliseer op: 2 April 2024

Twee Akademia-kundiges, dr. Chris-Mari Le Hanie (dosent in Opvoedkundestudies) en Suné Bester (ondersteuner: Aanlyn leer), het as mederedakteurs vroeër vandeesmaand tydens ʼn spoggeleentheid by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) ʼn nuwe handboek oor kurrikulumstudies bekendgestel. Dié handboek, ʼn Inleidende perspektief tot kurrikulumstudies, is moontlik gemaak deur befondsing van Akademia en die SAAWK. Jhani Pottas (dosent in Opvoedkundestudies) het ook ʼn hoofstuk in die boek geskryf. Dié publikasie word alom geloof as nie net ʼn welkome toevoeging tot die Afrikaanse literatuur oor kurrikulumstudies nie, maar ook as ʼn waardevolle uitbouing van Afrikaans as wetenskapstaal.

Volgens prof. Gawie du Toit, dekaan: Fakulteit Opvoedkunde, stel Akademia dit ten doel om by wyse van inisiatiewe soos dié handboek Afrikaans as akademiese taal in die onderskeie dissiplines te onderhou en/of uit te bou. “Ons fokus en strewe is om te belê in gehalte publikasies in Afrikaans om ons studente in staat te stel om in hul moedertaal op hoëronderwysvlak te kan studeer,” verduidelik Du Toit.

Emeritusprofessor Arend E. Carl, wat voorheen verbonde was aan die Departement Kurrikulumstudies aan die Fakulteit Opvoedkunde by die Universiteit Stellenbosch (US), verduidelik dat alhoewel heelwat navorsing oor kurrikulumstudies reeds die lig gesien het, die meeste daarvan in Engels opgeteken is. Hy gaan voort deur te sê dat Le Hanie en Bester goed daarin slaag om die leemte met betrekking tot die beskikbaarheid van Afrikaanse literatuur in dié spesialisveld beide op ʼn teoretiese en praktiese manier aan te vul. “Hierdie publikasie is nie net toeganklik vir navorsers nie, maar ook vir skole en onderwyslui wat as kurrikulumagente die kurrikulum in klaskamers moet implementeer ten einde leerders se potensiaal te help ontwikkel,” meen Carl.

Volgens Le Hanie word kurrikulumstudies reeds internasionaal vanaf die 1920’s as ʼn studieveld erken. Sy verduidelik dat dié studieveld egter eers vanaf die 1970’s as ʼn fokusarea binne die Suid-Afrikaanse hoëronderwyskonteks na vore getree het. Sedertdien het die bestudering hiervan in onderwysopleidingsprogramme egter nie altyd prioriteit geniet nie. Sy sê verder dat daar gevolglik ʼn ernstige tekort aan handboeke, veral in Afrikaans, vir hierdie studieveld ontstaan het.

ʼn Verskeidenheid temas word in die boek bespreek, waaronder:

  • Kurrikulumteorie
  • Kontemporêre tendense in kurrikulumstudies
  • Kurrikulumontwikkeling op makro-, meso-, en mikrovlak
  • Voorbeelde van kurrikulumontwikkeling
  • Integrering van digitale tegnologieë
  • Vaardighede vir onderrig en leer vir die 21ste eeu
  • Assessering in kurrikulumstudies: teoretiese grondslae en praktiese toepassings
  • Herkurrikulering op tersiêre vlak
  • Gehalteversekering

Volgens Le Hanie is die inhoud van die publikasie op praktiese voorbeelde geskoei sodat die teorie nie as abstrakte konsepte voorgehou word nie. Hierdie benadering dra daartoe by dat die handboek as’t ware as ʼn praktiese gebruiksgids gebruik kan word. Sy verduidelik voorts dat die publikasie nie net vir onderwysstudente van nut is nie, maar ook vir kurrikulumontwikkelaars, onderwysbeplanners, gehalteversekeringsbeamptes en ander belanghebbendes in die opvoedkundeveld.

“Ek en Suné, my mederedakteur, is ongelooflik dankbaar vir die geleentheid om ʼn bydra te kon maak tot die groeiende veld van kurrikulumstudies. Méér nog, om by wyse van hierdie projek met kundiges van dwarsoor die onderwysspektrum te kon skakel om in Afrikaans ons stemme én kundigheid te laat hoor,” sê Le Hanie.

Die publikasie sal eersdaags op Die Winkel beskikbaar wees.

Akademia-kundiges, dr. Chris-Mari Le Hanie en Suné Bester, is die mederedakteurs van die handboek: ʼn Inleidende perspektief of kurrikulumstudies. Dié publikasie is in samewerking met die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) uitgegee.
Die boekbekendstelling het gepaard gegaan met ʼn paneelbespreking. Die paneellede was, van links, prof. Carl Wolhuter, Helena Oosthuizen, dr. Chris-Mari Le Hanie, Suné Bester, Jhani Pottas en Marius van Rooyen.