Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-kampusopedag: Kom maak eerstehands kennis met jou toekoms

Gepubliseer op: 28 Maart 2024

Akademia se jaarlikse kampusopedag is ʼn belewenis, vra maar vir enige Fontie wat hul studiereis met die bywoning van dié geleentheid begin het! As jy ʼn studiedroom vir 2025 koester, dan is die opedag, wat op Vrydag 10 en Saterdag 11 Mei plaasvind ʼn belangrike stop op jou loopbaanreis.

Vanjaar trek dié opedag ʼn splinternuwe baadjie aan met ʼn vol program op beide die instelling se kampusse in Centurion. Laasgenoemde verwys na die bekende Gerhardstraat-kampus en die nuwe Leriba-kampus wat vroeër vanjaar bekendgestel is. Studente in die fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe en Regsgeleerdheid draf klas op die Gerhardstraat-kampusse, terwyl diegene in die fakulteite Natuurwetenskappe en Opvoedkunde klasse by die Leriba-kampus bywoon.

Die doel van die opedag is om vir voornemende studente nie net ʼn blik op die akademiese aktiwiteite en die gepaardgaande kampuslewe te bied nie, maar ook om die instelling se bruisende studentelewe ten toon te stel. Tydens die opedag sal ervare dosente beskikbaar wees om oor die verskillende studierigtings te gesels. Belangstellendes sal tydens die opedag voorts die geleentheid hê om meer uit te vind oor die nuwe BA (Taalstudies)-program wat vanaf 2025 vir die eerste keer aangebied sal word.

Die studenteraad en die verskillende koshuise se huiskomitees sal tydens die opedag gereed staan om Akademia se georganiseerde en baie dinamiese studentelewe aan toekomstige Fonties voor te hou. Akademia beskik oor mans- en dameskoshuise, naamlik Huis Dahlia, Huis Strelitzia, Huis Hennops en Huis Magalies. Hiermee saam is daar ook ʼn damesdaghuis, Huis Daglelie, en ʼn mansdaghuis, Huis Karoo. Die daghuise bied aan studente wat via die voltydse kampusmodel studeer en nie in ʼn koshuis bly nie die geleentheid om ook aan die pret van die koshuis- en studentelewe deel te neem.

Die studentelewe by Akademia het dit ten doel om ʼn tuiste te skep waar studente se hart en denke geïntegreerd kan ontwikkel by wyse van studenteleweaktiwiteite soos sport, kultuur en koshuislewe en deelname aan verskeie verenigings of klubs. Laasgenoemde sluit onder meer in ʼn stapklub, ʼn boek-en-boneklub, ʼn debatsvereniging, ʼn dramavereniging, Cantus en ʼn fotografieklub.

As dié voorsmakie van studentwees by Akademia jou opgewonde maak, en jou ook die instelling se gees van verbondenheid wil ervaar, bespreek sommer vandag al jou plek vir die opedag hier.

Akademia sien daarna uit om jou in Fontie-wêreld te verwelkom!

Akademia se jaarlikse kampusopedag bied aan voornemende studente van oraloor die geleentheid om eerstehands te ervaar wat dit beteken om ʼn Fontie te wees.
Ouers en voornemende studente kan tydens die kampusopedag met huidige Fonties gesels oor hul ervaring van Akademia as ʼn studietuiste. Georganiseerde studenteleweaktiwiteite verteenwoordig die hartklop van die instelling se bruisende studentelewe.