Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-mediasentrum huisves voortaan ook die Nongqai-argief

Gepubliseer op: 27 Maart 2024

Akademia sal voortaan die tuiste wees van die argief van die Suid-Afrikaanse Magte se Geskiedenis-tydskrif, Nongqai. Hierdie samewerking tussen die instelling en *Nongqai is op ʼn luisterryke wyse in Centurion aangekondig op Dinsdag 26 Maart.

Dié spesiale versameling dra by tot die verdere opbou en uitbrei van Akademia se mediasentrum. Die mediasentrum beskik reeds oor die versamelde werke van onder meer Joost van den Vondel, NP van Wyk Louw, dr. Natie van Vuuren en prof. Edith Raidt.

Tydens die bekendstellingsgeleentheid het verskeie rolspelers die geleentheid gehad om hul gedagtes oor die versameling met gaste te deel. Hierdie rolspelers het dr. Willem Steenkamp (hoofbedryfsbeampte en mederedakteur van die Nongqai-tydskrif), dr. Heinrich Matthee (bekleër van die ereleerstoel in veiligheidstudies aan Akademia), Jan de Klerk (argivaris van die Nongqai-tydskrif) en Lianda Coetzer (Akademia-bibliotekaris) ingesluit.

Heelwat nabetragting oor die impak en waarde van die Suid-Afrikaanse magte is tydens die geleentheid gedoen. In die lig hiervan is van die magte se grootste, maar grootliks onbekende oomblikke, soos dit in die argief geboekstaaf is, op die voorgrond geplaas.

Een só ʼn gebeurtenis het in die laat tagtigerjare in Pretoria afgespeel tydens ʼn besoek deur topleiers van die destydse Sowjetunie. Tydens hierdie geleentheid het die plaaslike krygstuigindustrie hul internasionale eweknieë beïndruk met hul vindingryke bedryfspraktyke. Laasgenoemde verwys na die praktyk om die Suid-Afrikaanse lugmag se verouderde Mirage-vegvliegtuie se motore te vervang met spesiaalomgeboude enjins soortgelyk aan dié van die MIG-29-vegvliegtuie. Die prototipe van hierdie “Super Mirage F1” het uitstekend gevaar op internasionale lugskoue. Interessant genoeg was die ontwerp-ateljee van die gesamentlike span lugvaartingenieurs van Suid-Afrika en die Sowjetunie destyds in Moskou gehuisves – dit terwyl die internasionale wapenverbod nog in volle swang was.

Die spesiale versameling sal deur die personeel van die Akademia-mediasentrum gekatalogiseer word en so groter toegang aan die breë gemeenskap, en veral navorsers, help verseker. Totdat hierdie proses voltooi is, kan belangstellendes Nongqai se webtuiste besoek. Behalwe vir interessante uitgawes sal die versameling ook heelparty e-boeke vervat.

Meer oor die Nongqai-tydskrif

Die Zulu-woord “nongqai” kan vertaal word na “die koning se magte” en dateer terug na die koloniale era. In dié tyd is daar op ʼn informele wyse só na polisiemanne in die Natalse kolonie verwys. In 1907 het hierdie polisiekorps in hul eie geledere ʼn tydskrif die lig laat sien wat trots die naam Nongqai gehad het. Met die totstandkoming van die Unie-verdedigingsmag en die geamalgameerde Suid-Afrikaanse Polisiediens in 1913, is daar gesamentlik besluit om dié naam ook vir die nuwe gesamentlike tydskrif van al die magte – insluitend die polisie, die weermag en die gevangenisdiens – te gebruik.

Gedurende 2010 het die afgetrede polisiebrigadier, Hennie Heymans, die tydskrif as ʼn privaat inisiatief laat herleef as ʼn aanlyn tydskrif. Die doel van die tydskrif is tweeledig, eerstens om die geskiedenis van die verskillende magte te help bewaar, en ten tweede om toegang tot hierdie inligting te vergemaklik

Vir meer inligting stuur gerus ʼn e-pos na Steenkamp of Coetzer.

*Nongqai Media vorm deel van die Nongqai Trust, ʼn entiteit sonder winsbejag. Die Trust is ook by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geregistreer as ʼn Publieke Belang Organisasie (PBO).

Akademia sal voortaan die tuiste wees van die argief van die Suid-Afrikaanse Magte se Geskiedenis-tydskrif, Nongqai. Hierdie tydskrif het dit ten doel om herinneringe, historiese data en ontleding wat verband hou met die geskiedenis van Suid-Afrika se Magte.
Brigadier Hennie Heymans (Nongqai-redakteur) en Lianda Coetzer (Akademia-bibliotekaris) tydens die bekendstelling.