Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Sentrumopedag en aanlyn inligtingsessie: Akademia kuier op jou voorstoep

Gepubliseer op: 25 Maart 2024

Koester jy ʼn studiedroom? Wil jy meer te wete kom oor Akademia en die studiemoontlikhede wat dié instelling vir jou kan ontsluit? Indien wel, dagboek solank 12 en 13 April. Op dié dae bied Akademia ʼn sentrumopedag én ʼn aanlyn inligtingsessie aan met die oog op studie vir die 2025- akademiese jaar.

Voornemende studente in Bloemfontein, Centurion, die Moot en George kan op dié dae by die Akademia-sentrum in hul geweste aandoen, terwyl belangstellendes wat hulself elders bevind kan inskakel vir die aanlyn inligtingsessie.

Vanjaar se sentrumopedag sal die vorm aanneem van twee geleenthede by elk van die sentra – een op 12 April om 18:00 tot 19:30, en een op 13 April om 09:00 tot 13:30. Die aanlyn inligtingsessie vind plaas op 13 April vanaf 09:00 tot 10:30.

Tydens hierdie geleenthede kan voornemende studente hulself nie net deeglik vergewis van die verskillende studiemoontlikhede nie, maar ook meer te wete kom oor die instelling se twee onderrigleermodelle, naamlik die voltydse kampusmodel of die nauurse afstandsmodel.

Volgens Lizán Maree, bestuurder: Studentewerwing, speel die sentrumopedag ʼn belangrike rol in die ingeligte besluite wat voornemende studente oor hul studietoekoms moet neem. Om dié rede is dit belangrik om op dié dag soveel as moontlik inligting in te win, vrae te vra en by huidige Fonties kers op te steek. “Die Akademia-span staan gereed om al jou vrae te beantwoord en jou ʼn eerstehandse belewenis van Fontie-wees te gee,” sê Maree.

Sy voeg by dat die instelling se landswye sentrumnetwerk ʼn belangrike ondersteuningstruktuur vir studente bied. Hierdie netwerk is spesifiek in Afrikaanse gemeenskappe gesetel om toeganklike universiteitsvlakopleiding binne studente se bereik te plaas. Elke sentrum vervul die rol van ʼn akademiese tuiste vir studente in ʼn bepaalde gebied, en binne hierdie ruimte word vriendskappe gesmee, netwerke uitgebrei en die nodige ondersteuning gebied word ten opsigte van logistiese aspekte soos internettoegang en kragvoorsiening.

“Indien jy ʼn studiedroom koester, wil ek jou hartlik uitnooi om óf die sentrumopedag óf die aanlyn inligtingsessie by te woon en só die eerste doelgerigte stap te neem om jou droom te verwesenlik. Onthou: elke studiedroom is ʼn toekomsvisie, en by Akademia streef ons daarna om denke én hart te vorm met die oog op ʼn hoopvolle toekoms,” sê Maree.

Besoek die Akademia-webblad en bespreek vroegtydig jou plek vir die sentrumopedag of nauurse inligtingsessie. Akademia sien uit daarna om jou te ontmoet!

Tydens die sentrumopedag het voornemende studente die geleentheid om met Akademia-personeel en studente te gesels en só meer te wete te kom oor die instelling.
Akademia se aanlyn inligtingsessie maak dit vir jou moontlik om vinnig en sonder moeite in te skakel en die eerste stap te neem om jou studiedroom te verwesenlik.