Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademiese biblioteke funksioneer in die voorste linie van kennisbewaring

Gepubliseer op: 20 Maart 2024

Geskryf deur Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia.

Nasionale Biblioteekweek word vanjaar vanaf 18 tot 24 Maart in Suid-Afrika gevier. Hierdie week word sedert 2011 jaarliks gedurende Maart herdenk. Vanjaar se tema fokus op sosiale samehorigheid en die belangrike rol wat biblioteke speel om mense bymekaar te bring, verhoudinge te smee en eenheid te bevorder. Dié tema spreek direk tot Akademia se jaartema van verbondenheid en daarom is die gebeurtenis ook ʼn hoogtepunt op die gebeurlikheidskalender van die instelling se mediasentrum.

Biblioteke dien as bewaarplekke van kennis en huisves ʼn groot verskeidenheid kennisversamelings, soos onder meer boeke, joernale, navorsingsartikels en ander akademiese hulpbronne. Hierdie hulpbronne ondersteun studente, fakulteite en navorsers in hul akademiese strewes deur toegang te bied tot inligting wat dalk nie elders geredelik beskikbaar is nie. Om hierdie inligting vinnig en effektief te kan opspoor, organiseer bibliotekarisse inligting by wyse van katalogisering en klassifikasie deur gebruik te maak van die Dewey desimale klassifikasiestelsel. Dié katalogisering- en indekseringsproses dien as die sleutel wat toegang tot kennisbronne moontlik maak.

Die bibliotekaris in die akademiese biblioteek vervul ʼn aantal rolle waaronder die van leer-, navorsing-, en onderrigondersteuner van die belangrikstes is. Dit is verder die taak van die bibliotekaris om bronne op te spoor, literatuursoektogte te doen, effektiewe soekstrategieë te ontwikkel, interbiblioteeklenings te fasiliteer en bronne te evalueer. Al hierdie take het dit ten doel om aan die uiteenlopende behoeftes van biblioteekgebruikers te voldoen en word prakties uitgevoer by wyse van verwysingskonsultasies en voortdurende biblioteekoriëntering.

Die akademiese biblioteek word voorts gekenmerk deur die bevorderlike leerruimte wat dit aan gebruikers bied. Dit sluit in studiekamers vir individue en groepe sowel as rekenaarlaboratoriums terwyl toegang tot inligting vergemaklik word deur die beskikbaarstelling van rekenaars, drukkers, skandeerders en ander tegnologiese hulpbronne.

Soos in enige ander beroepsveld speel voortdurende professionele ontwikkeling ʼn belangrike rol in die mondering van ʼn bibliotekaris. Hierdie ontwikkeling word grotendeels genoodsaak deur snel veranderende tegnologie en nuwe tendense. Laasgenoemde verwys veral na die hedendaagse digitaliseringsneiging ten einde bronne by wyse van databasisse, elektroniese boeke en joernale meer toeganklik te maak. Hierdie fokus op data en die beskikbaarstelling daarvan het tot gevolg dat biblioteke toenemend betrokke is by databestuur en -kurasie. Nóg ʼn aspek wat baie aandag geniet in die akademiese biblioteek is die bevordering van ooptoegangsbronne en oopwetenskapsinisiatiewe. In hierdie konteks word daar veral gelet op die bevordering van ooptoegangsbewaarplekke, publikasieplatforms en -modelle.

Die Covid-19-pandemie het die elektroniese beskikbaarstelling van biblioteekdienste drasties versnel, insluitend die vraag na aanlyn oriënteringsessies rakende die gebruik en aflewering van diesulke bronne. Kunsmatige intelligensie (KI) en masjienleertegnologieë verteenwoordig ʼn opwindende nuwe hoofstuk in die biblioteekwese en sal beslis aangewend word om inligtingherwinning en gebruikerservarings te verbeter terwyl roetinetake geoutomatiseer kan word. Hierdie nuwe tendense weerspieël die ontwikkelende aard van biblioteekwese en sy voortdurende verbintenis om toegang tot inligting te verskaf, lewenslange leer te bevorder en die gemeenskap te dien in ʼn toenemend digitale wêreld.

Ten slotte is biblioteke ʼn integrale deel van die akademiese missie, wat onderrig, leer, navorsing en intellektuele ontwikkeling ondersteun. Biblioteke verskaf noodsaaklike hulpbronne, dienste en ruimtes wat bydra tot die sukses en vooruitgang van studente, fakulteite en die breër navorsingsgemeenskap. Gelukkige Biblioteekweek aan elkeen!

Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia, meen akademiese biblioteke speel ʼn kardinale rol nie net ten opsigte van kennisbewaring nie, maar ook die bevordering van intellektuele en navorsingsontwikkeling.