Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Die Akademia-gedenkboek – ʼn stukkie geskiedenis vasgevang

Gepubliseer op: 24 Oktober 2022

Die Akademia-gedenkboek is op 10 Oktober 2022 amptelik aan Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, oorhandig by die instelling se prestige-tienjaarfunksie te Sol-Tech in Monumentpark. Hierdie boek vertel die storie van Akademia se pioniers en hoe die eerste dekade van Akademia as instelling ontvou het.

Ilze Nieuwoudt het as skrywer van die Akademia-gedenkboek ʼn volle nege maande aan die boek se samestelling spandeer. “Dit was vir my nogal ʼn opwindende projek om aan te werk. Dit is darem heel anders as om ʼn storieboek te skryf wat ʼn begin, middel en einde het. Dit is soos ʼn legkaart wat met tyd vorm begin aanneem het, en as jy terugstaan ontvou die volle beeld op ʼn oomblik wat jy dit nie verwag nie.”

Volgens Nieuwoudt was dit vir haar besonders om persoonlik onderhoude met Akademia se eerste personeellede te kon voer. “Om deur hulle oë te kon kyk na die eerste jare van Akademia was soos om geskiedenis te sien afspeel. Om die verlede op te teken lê my baie na aan die hart en om die ‘eerstes’ se ervarings soos hulle dit gesien en beleef het, neer te pen, was ʼn voorreg.”

Karien Brits, Akademia se taalpraktisyn aan die stuur van die Akademia Uitgewery onder wie die boek gepubliseer is, vertel dat die boek die storie van Akademia se eerstes vertel. “Dit is nie net die blote feite wat weergegee word nie, daar is ook iets van die tydsgees vasgevang. ʼn Mens sien in hierdie boek wat gebeur as daar saam met ʼn gemeenskap in dankbaarheid aan ʼn instelling gebou word.”

Sy beskryf die boek se uitlegstyl as ʼn plesier vir die oog. “Die uitleg vul die inhoud ongelooflik goed aan en kommunikeer saam met die geskrewe gedeeltes ʼn dekade van harde werk en pionierskap.” Sy noem verder dat die oop ruimtes plek-plek rus gee ná die inhoudryke gedeeltes en dat elke foto met sorg gekies is om die verhaal aan te vul en om opsigself ook die verhaal te vertel. “Dit is ʼn boek wat in een sitting deurgelees kan word, want jy sal dit nie wil neersit nie.”

Volgens Brits is hierdie boek se ideale leser Akademia se personeel, oudpersoneel, studente en alumni, maar ook vir enige iemand wat ʼn hartklop vir Afrikaans het. “Dit is sekerlik gewoon interessant om die verhaal agter die verhaal te lees. Maar ek dink dit ook gewoon ʼn verhaal van hoop en inspirasie vir die mense wat vandag dalk moedeloos mag voel oor verval rondom hulle.”

Brits vertel dat ʼn stukkie van Akademia se geskiedenis nou in boekvorm vasgevang is en dat dit ʼn visuele simbolisering is van dit waaraan almal by Akademia elke dag verder bou. “Ons het waardevolle lesse met die eerste boek geleer en ons weet ons moet nou al aan die volgende boek begin werk,” sê Brits. “Die boek gee erkenning aan almal wat saamgewerk het om ʼn droom te bewaarheid.”

Nieuwoudt beskryf Akademia se eerste tien jaar as “ʼn reis van harde werk, toewyding, geloof en genade. Sonder hierdie elemente sou Akademia nie gewees het waar hy vandag is nie.” Sy sluit af met ʼn wens vir Akademia:

“My wens is dat die ywer, toewyding, vaste vertroue in Akademia as ʼn hoëronderwysinstelling en geloof dat hierdie taak ʼn roepingswerk is wat gedoen moet word, nooit sal vervaag nie. Jy plant nie ʼn boom vir jouself nie, maar vir jou nageslag, mag Akademia altyd aanhou plant, vertroetel en groei aan dié erfenis. Mag dié storie behoue bly vir hulle wat later in die skadu van die ‘Akademia-bome’ sit.”

Koop gerus hierdie pragboek hier op Die Winkel teen R650.

Hier hou Ilze Nieuwoudt, skrywer van die boek, en Karien Brits, Akademia se taalpraktisyn, die Akademia-gedenkboek se eerste eksemplaar vas by die spoggerige prestige-tienjaarfunksie op 10 Oktober 2022 te Sol-Tech gehou is.