Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia koop “kortkursus” ter viering van nuwe kortkursusplatform

Gepubliseer op: 18 Oktober 2022

Akademia het op 18 Oktober 2022 onlangs die nuus bekendgemaak dat die instelling ʼn nuwe fase betree met ʼn opwindende kortkursusplatform, genaamd Akademia et al. Die instelling het die woord “kortkursus” in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gekoop om hierdie heuglike nuus te vier.

Die nuwe kortkursusplatform word onder Akademia se vaandel bedryf en sal aan individue en ondernemings praktykgerigte kortkursusse met ʼn akademiese onderbou bied. Al die kortkursusse van Akademia et al. fokus op die moderne werkplek se behoeftes, maar fokus om die kursusganger akademies te verdiep en word daarom deur uitgesoekte akademici en kundiges aangebied.

Met die aankoop van die woord “kortkursus” by die WAT wil Akademia klem lê op die feit dat Akademia et al. gehalte kursusse in Afrikaans aanbied. Sodanig beklemtoon en ondersteun die instelling die uitbou van die Afrikaanse taal as navorsings- en spreektaal. “Akademia et al. wil graag die breër gemeenskap dien en het daarom besluit om kortkursusse van hoë gehalte in ‘n verskeidenheid akademiese dissiplines aan te bied. Die nuwe platform bied die geleentheid om kennis en vaardighede van ons akademici en ander kundiges met die gemeenskap te deel,” noem dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en opleidingsplatformbestuurder van Akademia et al.

Kortkursus is die sewende woord wat Akademia besit, nadat die woorde universiteit, dekaan, studentelewe, pionierswerk, alumni en koshuis reeds aangekoop is. “Ons is trots op elke woord wat ons in die WAT besit en ‘kortkursus’ is ʼn toevoeging wat ons na aan die hart lê,” vertel Maritz. “Hierdie kortkursusse van Akademia et al. gaan ʼn groot verskil maak in individue se loopbane en aan hul die geleentheid bied om hul kennis, insig, selfvertroue, waardes en interpersoonlike vaardighede op te skerp.”

Indien jy meer wil uitvind oor Akademia et al. en die beskikbare kortkursusse, klik gerus hier. Die eerste kortkursusse uit verskeie kennisvelde neem reeds vroeg November aanvang. Akademia et al. – kortkursusse gerig op insig en praktyk.

Dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en opleidingsplatformbestuurder van Akademia et al. met die amptelike sertifikaat van eienaarskap van die woord “kortkursus” wat die instelling by die WAT aangekoop het.