Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia brei uit met kortkursusplatform, Akademia et al.

Gepubliseer op: 18 Oktober 2022

Akademia het op 18 Oktober 2022 tydens ʼn bekendstellingsfunksie by Leriba in Centurion die nuus bekendgemaak dat die instelling ʼn opwindende kortkursusplatform genaamd Akademia et al. van stapel stuur. Akademici, bekende sakelui en vriende van Akademia het die funksie bygewoon om ʼn glasie op die instelling se kortkursusplatform te klink. Akademia vier ook vanjaar sy tiende jaar van klasgee.

Akademia et al., gesetel onder die Akademia-vaandel, is gevestig om praktykgerigte kortkursusse met ʼn akademiese onderbou aan individue en/of ondernemings te bied. Dié kortkursusse word aangebied deur uitgesoekte akademici en kundiges en word verpak om te fokus op die behoeftes van die werksplek asook akademiese verdieping.

Die kortkursusse word vir sertifikaatdoeleindes aangebied bo en behalwe die Raad op Hoër Onderwys (RHO)-geakkrediteerde kwalifikasies wat tans deur Akademia aangebied word. Die opleidingsplatform bied die geleentheid aan individue om hulleself te ontwikkel, kennis te verdiep en hulleself beter toe te rus vir die werksplek (ongeag of hulle ʼn formele RHO-geakkrediteerde kwalifikasie vooraf voltooi het).

Die “Akademia” in die naam verwys na familiebande met die moederinstelling, Akademia. Et al. is die Latynse afkorting vir “et alia (dinge meervoud) / et aliae (vroulike meervoud) / et alii (manlike meervoud)” en verwys tradisioneel na “nog dinge” of “nog mense”. “In die Akademia-konteks verwys Akademia et al. na ‘nog kursusse’ wat aangebied word deur ons eie dosente of moontlik buitedosente of instellings as ons vennote, dus ook ‘nog vennote / en andere’,” vertel dr. Rachel Maritz, die dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, wat die Akademia et al.-platform bestuur.

Sy meen dat die uitbreiding na kortkursusse weereens klem plaas op die belangrikheid van voortgesette leer. “Individue wat voortdurend en doelbewus aanhou leer deur kortkursusse te voltooi, verkry die geleentheid om kennis, insig, selfvertroue, waardes en interpersoonlike vaardighede op te skerp. Voortgesette leer is daarom belangrik vir die individu, maar juis ook omdat dit uiteindelik ʼn meer produktiewe en kreatiewe werksplek en gemeenskap skep,” sê Maritz.

Volgens Maritz het Akademia besluit om hierdie nuwe kortkursusplatform aan te pak aangesien die instelling spesialiskennis en vaardighede van akademici en ander kundiges gebruik om die breër gemeenskap te dien. “Ons beoog om relevante toekomsgerigte kortkursusse oor ʼn wye verskeidenheid akademiese dissiplines aan te bied. Kortkursusse sal via twee formate aangebied word, naamlik aanlyn op die moderne Akademia-leerbestuursplatform of via fisiese kontaksessies.”

Dr. Tienie Ehlers, onafhanklike besigheidskonsultant wat fokus op strategie, bestuurs- en leierskapontwikkeling, was die gasspreker by die Akademia et al.-bekendstellingsfunksie. Hy meen dat Akademia et al. se waardes, wat gemeenskapsontwikkeling en die opvoedingsideaal insluit, die kortkursusplatform uniek maak. “Akademia et al. wil nie net resultate bereik nie maar dieper in die gemeenskap delf en verandering bring.”

Akademia et al. bied ʼn verskeidenheid kortkursusse om aan die individu se behoeftes te voldoen. Nuwe kortkursusse sal deurlopend tot die lys bygevoeg word. Die eerste tien kortkursusse wat deur Akademia et al. uitgerol word, is:

 

Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, het tydens sy toespraak by die bekendstellingsfunksie genoem dat dit ʼn groot voorreg is om ʼn glasie te kan klink op die pragtige geleentheid en op die splinternuwe Akademia et al. “Dit is krities belangrik dat ons Akademia vir die gemeenskap oprig en ons vier vandag hierdie nuwe kortkursusplatform,” sluit Visser af.

Wees op die voorpunt van jou industrie. Maak Akademia et al. jou tuiste vir relevante, toekomsgerigte, praktykgerigte en verrykende kortkursusse. Besoek etal.akademia.ac.za om meer uit te vind oor Akademia et al. en die kortkursusse wat reeds beskikbaar is.

Klik hier om die bekendstelling se foto’s af te laai.

Dr. Tienie Ehlers, onafhanklike besigheidskonsultant saam met dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en opleidingsplatformbestuurder van Akademia et al, en Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia.