Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Die bekendstelling van Akademia se universiteitslied ʼn hoogtepunt en geskiedkundige oomblik

Gepubliseer op: 26 Oktober 2022

Elke universiteit het ʼn lied. Die liedere is simbole van die instelling, dit verteenwoordig die tradisie, geskiedenis, waardes en sy mense. Dit skep ʼn gevoel van samesyn, trots en gemeenskap.

Tydens Akademia se prestige-tienjaarfunksie wat op 10 Oktober 2022 gehou is, is die universiteitslied van dié instelling vir die eerste maal deur die Akademia-koor gesing. Die lied is geskryf deur prof. Hans du Plessis, skrywer en digter, en is gekomponeer deur Franco Prinsloo, Akademia se koordirigent. Tydens hierdie funksie is daar hulde gebring aan die pioniers wat Akademia help bou het deur die jare en om tien jaar se pionierswerk te vier. Die bekendstelling van die universiteitslied was ʼn geskiedkundige oomblik vir Akademia as akademiese instelling en die lied gaan nog deur baie Fonties en personeel gesing word in die dekades wat voorlê

Om die universiteitslied vir die eerste keer saam met die Akademia-koor op te voer was vir Prinsloo besonders. “In die oomblik kon ek die ongelooflike toewyding op elke gesig van elke koorlid sien. Dit was ʼn baie spesiale oomblik.” Hy noem verder dat almal in die koor die nuwe lied met erns en toewyding aangepak het en dat dit vir elkeen ʼn eer was om die lied vir die eerste maal te kon sing.

Prinsloo het vir Du Plessis aanbeveel om Akademia se universiteitslied te skryf. “Ek het al baie in die verlede saam met prof. Hans gewerk en sy teks getoonset. Hy skryf pragtig liries en verstaan ook die musikale ritme in sy skryfwerk,” vertel Prinsloo.

Vir Du Plessis was die skryf van Akademia se universiteitslied ʼn hoogtepunt in sy loopbaan. “Toe Franco Prinsloo [vir] my vra om die lied te skryf was dit vir my byna ʼn heilige oomblik,” sê Du Plessis. “Dit was wel ʼn opdrag van Akademia, maar dit was nie vir my opdragwerk nie omdat ek weet dat ʼn Afrikaanse universiteit, gegrond op Christelike waardes en kwaliteit onontbeerlik is vir die voortbestaan van Afrikaans as hoëfunksietaal.”

Volgens Du Plessis bied die lied ʼn oorsig oor die waardestelsel van Akademia soos vervat in die instelling se visie en missie as waardegedrewe Christelike en Afrikaanse akademiese instelling van gehalte.

Du Plessis noem dat dié lied besonders is danksy die eenvoud daarvan aangesien die werklikheid van die erns en die diepte van waardegedrewenheid in die eenvoud van kompleksiteit skuil. “Die lied maak my ook opgewonde aangesien die tema die instelling se toewyding aan God in die teks beklemtoon.”

Du Plessis het ongeveer drie maande aan die teks van die universiteitslief geskryf waarna die toonsetting deur Prinsloo plaasgevind het. “Die skryfproses het skryf en herskryf behels met die oog op die musikaliteit van die teks self. Dit was ʼn proses van samewerking tussen my en ingeligte lesers wat daarop uit was om ʼn lied tot stand te bring wat Akademia waardig sou wees.”

Prinsloo sê dat hy die melodie van die universiteitslied juis so geskryf het dat dit maklik deur enigeen gesing kan word. “Die melodie is eenvoudig, maar treffend en dit steek in mens se gedagtes vas sodat jy dit gereeld wil neurie.”

Du Plessis sluit af met sy wens vir Akademia:

“My wens is dat Akademia as akademiese universiteit in Afrikaans met die heel beste in die wêreld kan saampraat.”

Kyk graag die video hier.

Universiteitslied

Teks: Prof. Hans du Plessis (1945-)

Komponis: Franco Prinsloo (1987-)

Vers een

Akademia omhels die denkende gees

Wat deel van die oop gesprek wil wees,

Sodat ons in sin en word en lied

Diens aan gans die gemeenskap mag bied.

Vers twee

Hier waar ek in my eie taal

My droomtoekoms mag bepaal

en die wêreld in elke stelling sien

en God bo alles dien.

Koor

Aan God Drie-enig al die eer

Hy, wat akademies ook beheer.

Ad futurum per fontes!

Ad futurum per fontes!

Vers drie

Waar geloof en rede waarheid deel,

Is wysheid soeke na die groot geheel

Sodat ons ook aanspreekbaar dink

Wyl die toekoms vriend’lik wink.

Koor

Aan God Drie-enig al die eer

Hy, wat akademies ook beheer.

Ad futurum per fontes!

Ad futurum per fontes!

Die Akademia-koor het op 10 Oktober by die instelling se prestige-tienjaarfunksie vir die eerste keer die Akademia-universiteitslied gesing.