Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Sakeplankompetisie 2023: Verlowingsbeplanningsdiens haak die knoop deur

Gepubliseer op: 6 Oktober 2023

Akademia het op 6 Oktober 2023 die wenner van die gewilde BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie aangewys. Die wenner is Abigail Fourie en haar besigheid, Perfect Moments. Dié verlowingsbeplanningsbesigheid het dit ten doel om uitsonderlike verlowingsbeplanningsdienste te verskaf en poog om die individualiteit van elke paartjie te verstaan en te vier.

As die wenner van vanjaar se kompetisie stap Fourie weg met ʼn kontantprys van R50 000 geborg deur Solidariteit Jeug asook verskeie ander waardevolle pryse.

Vanjaar se topdriesakeplanne is vanuit tien baie mededingende inskrywings gekies en is uiteindelik beslis tussen Abigail Fourie (Perfect Moments), Catherine-May Trollip (Whisper Cafe) en Daren Horne (BioYield).

Die kompetisie, wat vanjaar vir die derde keer aangebied is, verteenwoordig een van die hoogtepunte op die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se jaarkalender. Volgens Monique Visser, programkoördineerder van die BCom (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie, spreek dié kompetisie tot meer as net entrepreneuriese kennis en vindingrykheid. “Getrou aan Akademia se visie, bied hierdie uitdaging aan deelnemende studente die geleentheid om op ʼn praktiese, maar uiters dinamiese wyse, hul denke en emosionele veerkragtigheid (hart) te ontwikkel,” verduidelik Visser.

Sy voeg by dat die kompetisie ontstaan het uit ʼn behoefte om studente by te staan met die ontwikkeling en verwesenliking van hul besigheidsdrome. Die waarde van die jaarlikse uitdaging lê juis daarin opgesluit dat deelnemers dit wat hulle tydens hul studie in Ondernemingsbestuur prakties kan toepas. Laasgenoemde maak studente, volgens Visser “besigheidsfiks” en rus hulle toe om hul eie besighede met selfvertroue te kan begin. Op hierdie manier dra Akademia daartoe by om werksgeleenthede vir die gemeenskap te help skep.

Visser meen dat die Sakeplankompetisie bo ander soortgelyke entrepreneurskapskompetisies uitstaan vanweë sy unieke mengsel van hulpbronne, mentorskap en netwerkgeleenthede sowel as omvattende ondersteuning aan die wenners na afloop van die kompetisie. “Dit is so lekker om te sien hoe die gehaltet van die inskrywings jaar ná jaar verhoog, en die personeel verbonde aan Ondernemingsbestuur is telkens verstom oor die kreatiwiteit, innovasie en toepaslikheid van elke voorgestelde besigheid,” sê Visser ter afsluiting.

ʼn Hartlike woord van dank word aan die volgende borge betuig:

  • Akademia
  • Solidariteit Jeug (die hoofborg, vir die kontantprys van R50 000)
  • Maryna Stevenson
  • Van Schaiks
  • Heart of Courage
  • Solidariteit Finansiële Dienste (SFD)
  • Anke Creative Solutions
  • Groot FM
  • Magriet Co.
  • Solidariteit Leer
  • Solidariteit Werk
  • La Essence
  • Sol-Tech

Akademia wens elkeen van die finaliste geluk met hul prestasie gedurende die kompetisie. Sterkte ook aan Fourie wat eersdaags aan die finale ronde van AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie gaan deelneem.

Abigail Fourie is die wenner van vanjaar se BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie. Hennie Bierman (Solidariteit-verteenwoordiger) het die prysgeld van R50 000 aan Fourie oorhandig. Solidariteit het as hoofborg van die kompetisie opgetree.
Die finaliste in vanjaar se kompetisie was, van links Catherine-May Trollip (Whisper Cafe), Daren Horne (BioYield) en Abigail Fourie (Perfect Moments).