Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die belangrikheid van goeie geestesgesondheid in ʼn angstige wêreld

Gepubliseer op: 10 Oktober 2023

Geskryf deur dr. Mandie Dubery, ʼn maatskaplike werker verbonde aan Studentesake by Akademia

Wêreldgeestesgesondheidsdag word op 10 Oktober gevier. Dié belangrike dag
op die welstandskalender het sy oorsprong te danke aan die Wêreldfederasie vir Geestesgesondheid en word vanjaar vir die 31ste keer waargeneem. Die doel van die dag is om bewustheid aan te wakker oor geestesgesondheid, en om oud en jonk te motiveer om hul geesteswelstand ʼn prioriteitsaak te maak.

Gedagtig aan die doel van Wêreldgeestesgesondheidsdag is dit belangrik dat Akademia-studente, as jong volwassenes, die dringendheid en waarde van geestesgesondheid en goeie selfsorg besef.

Fonties bevind hulself in ʼn baie opwindende tydvak in hul lewens; ʼn tydperk van ontdekking en persoonlike groei. Hierdie tydperk word egter ook gekenmerk deur unieke stresfaktore en toenemende druk om nie net te presteer nie, maar ook om die eerste tree na professionele sukses en volwassenheid te gee.

Navorsing bevestig dat die jare tussen 18 en 25 beide uitdagend en verwarrend kan wees. Hierdie periode verteenwoordig ʼn tydperk waarin jong mense belangrike besluite moet neem oor onder meer hul loopbane, hul persoonlike lewens en selfs hul identiteit. Dit is daarom net natuurlik dat die gewigtigheid van aspekte soos die suksesvolle voltooiing van ʼn kwalifikasie, die soeke na gehalte werksgeleenthede en die voldoening aan gemeenskapsverwagtinge tot spanning en angs sal bydra. Laasgenoemde oefen ʼn besliste impak uit op ʼn jong mense se geestesgesondheid en indien dit nie aangespreek word nie, kan dit tot ernstige probleme soos depressie en uitbranding lei.

Die waarde van goeie geestesgesondheid kan as volg saamgevat word:

  • Emosionele stabiliteit

Goeie geestesgesondheid dra by tot ʼn verhoogde sin van emosionele stabiliteit. Hierdie stabiliteit help die jeug om effektief met die uitdagings van hierdie lewensfase om te gaan. Terselfdertyd verminder dit die voorkoms van gesondheidsprobleme soos angs en depressie.

  • Selfbewustheid

ʼn Proaktiewe bewustheid oor geestesgesondheidsaangeleenthede kan ʼn jong mens help om hom- of haarself beter te verstaan. Dié proses word vergemaklik deurdat ʼn jongeling sy/haar sterkpunte en beperkings erken en verstaan, en ʼn duidelik perspektief oor sy/haar lewensdoel ontwikkel. Op die keper beskou beteken dit dat ʼn selfbewuste jong mens bestuur van sy/haar lewe kan neem, terwyl die fokus op voortdurende vaardigheidsontwikkeling geplaas word.

  • Die hantering van stres

Die effektiewe hantering van stres, as ʼn aktiwiteit ter bevordering van goeie geestesgesondheid, verteenwoordig ʼn vaardigheid wat jongmense vir die duurte van sy/haar lewe by kan baat vind.

  • Selfsorg

Selfsorg verteenwoordig ʼn onmisbare aspek van goeie geestesgesondheid. Faktore wat nou hiermee verband hou sluit in ontspanning, ʼn gesonde leefstyl, die daarstelling van duidelike persoonlike grense, goeie vriendskappe, die aktiewe navolging van persoonlike en professionele drome en gemeenskapsbetrokkenheid. Laasgenoemde verleen betekenis aan die lewe deur die besef dat jy deel uitmaak van iets groter as jouself.

Dit is belangrik om te besef dat jou geestesgesondheid ʼn waardevolle bate is wat ten alle tye gekoester moet word. In die lig hiervan is dit nie net ʼn verantwoordelikheid wat jy in die hede teenoor jouself het nie, maar ook teenoor jou toekoms. Moenie wag vir 10 Oktober elke jaar om vir ʼn wyle aan jou geestesgesondheid te dink nie. Neem elke dag ʼn besluit om in selfsorg te belê ten einde ʼn sterker en meer veerkragtige individu te word.

Die welstand en gesondheid van alle Fonties is vir Akademia van kardinale belang. Akademia bied ondersteuning aan sy studente in die vorm van berading, leerondersteuning en leerontwikkeling, mentorskap- en leierskapsprogramme, asook die ontwikkeling van sekere vaardighede om die studente gereed te maak vir hulle studies sowel as die werksplek. Hierdie ondersteuning en ontwikkeling vind plaas deur verskeie aksies en programme wat deur die loop van die jaar aangebied word waaraan studente kan deelneem. Fonties kan verder ook berading en emosionele ondersteuning ontvang by wyse van die Studentewelstandsondersteuningspan.

Dr. Mandie Dubery meen goeie geestesgesondheid is ʼn bate wat ten alle koste gekoester moet word.