Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia brei uit met top kwalifikasie in Projekbestuur

Gepubliseer op: 9 Februarie 2016

In Maart brei Akademia sy snelgroeiende akademiese portefeulje uit met ’n gevorderde diploma in projekbestuur. Teen ’n bekostigbare prys en met klasse na-uurs, plaas dit ’n skaars vaardigheid binne bereik van Afrikaanse bedryfslui.

“Projekbestuur gaan daaroor om projekte – van die kleinste tot die mees komplekse – binne die tydsraamwerk en binne die begroting suksesvol af te handel. Vir dinamiese werknemers is dit die volgende tree in hul loopbane, waarmee hulle meer produktief kan wees, kop en skouers bo mededingers kan uitstaan en bo diskriminerende arbeidspraktyke kan uitstyg. Te midde van groeiende ekonomiese druk is dit ’n vaardigheid wat werkgewers nie kan versmaai nie.”

Piet le Roux, Akademiese Hoof van Akademia

Die gevorderde diploma in projekbestuur is ’n eenjaarkwalifikasie wat na-uurs aangebied word sodat werkende studente steeds hul werk en inkomste kan behou. Dit is ’n uitsoekprogram en studente moet oor ten minste drie jaar werkservaring, sowel as ’n graad of diploma beskik. Koste beloop R27 000 en sluit ’n jaar se intekening op Microsoft Project in.

Yolandi Grobler, dosent in Projekbestuur by Akademia, sê die program behels ’n unieke kombinasie van kontaksessies, interaktiewe videotegnologie en e-leer. “Kontaksessies en tutoriale is verpligtend en word oor vier Saterdae in Centurion en Bellville aangebied. En met die drie verpligte toetse en drie verpligte werksopdragte maak ons seker dat studente gereed is om by die eerste geleentheid hul kennis in die praktyk toe te pas.”

Aansoeke word tot 28 Februarie ingewag op www.akademia.ac.za. Klasse neem op 5 Maart ’n aanvang.