Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Nuwe aanstellings en nuwe kampus vir Akademia

Gepubliseer op: 12 Januarie 2016

Wanneer Akademia in Februarie sy vyfde akademiese jaar begin, sal dit met ‘n nuwe akademiese hoof, verskeie nuwe dosente en ‘n splinternuwe kampus wees.

Piet le Roux, voorheen hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, het op 4 Januarie 2016 die stoel van Akademiese hoof by Akademia ingeneem. Le Roux is verantwoordelik vir die strategiese posisionering van Akademia as ‘n gemeenskapsuniversiteit, vestiging van vennootskappe en akademiese uitbreidings. [pullquote]Akademia gaan 2016 met nagenoeg 400 studente in verskeie graad- en hoër sertifikaatprogramme binne. Ons het ons oprigtingsfase suksesvol voltooi en Piet sluit vir fase twee by ons aan, naamlik die uitbou van Akademia as gemeenskapsuniversiteit.[/pullquote]

Marthinus Visser, bestuurshoof van Akademia, sê hulle is opgewonde oor Le Roux se aansluiting by Akademia.

Le Roux sê die posisionering van Akademia as ‘n gemeenskapinstelling is ‘n taak wat hy graag aanvaar. “Akademia het ‘n blink toekoms om, met die gemeenskap se steun, ‘n gerekende universiteit te word. Ons het immers meer as ‘n eeu se trotse tradisie van universiteitsonderwys vanuit die Afrikaanse gemeenskap waarop ons kan voortbou. Terwyl universiteite in Suid-Afrika, deels in navolging van wêreldwye tendense en deels vanweë politieke druk, vandag geneig is om bande met hul gemeenskappe los te maak, sal Akademia opnuut vanuit die gemeenskap ‘n brug na die internasionale kenniswêreld slaan.”

Benewens die gebruik van Afrikaans en sy aard as gemeenskapsinstelling, is Akademia ook nog aan die voorpunt van moderne onderwystegnologie, sê Le Roux. “Akademia dink nuut en vars oor onderrig en leer. Terwyl die inligtingstegnologie-revolusie vandag ou universiteitsmodelle grondig uitdaag, is ons model juis op sulke tegnologie gebou.”

Naas Le Roux het Akademia vanjaar reeds vier nuwe dosenteposte, in rekeningkunde, projekbestuur, ondernemingsbestuur en statistiek, gevul. Verdere aanstellings volg later vanjaar.  Dr Paul Steyn, wat Akademiese hoof vanaf 2012 was, sal voortaan die verantwoordelikheid van voldoening en akademiese administrasie as Provost hanteer.

Nuwe kampus

Akademia betrek vandeesweek sy nuwe gebou in Centurion, verlede jaar aangeskaf deur die KampusTrust van die Solidariteit Beweging. Die perseel, slegs 2km vanaf die Gautrein-stasie en Supersport Park, beslaan 1,1ha met 2600m2 se vloerruimte.

Die gebou is einde verlede jaar heringerig met die jongste tegnologie in vier professionele video-ateljees, vanwaar dosente met interaktiewe videotegnologie lesings in sewe studiesentrums landwyd tegelyk aanbied.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het sy gelukwensing uitgespreek. “Op die nuwe kampus wink die toekoms vir Akademia as volwaardige Afrikaanse universiteit. Met die aankoop van die geboue doen die Solidariteit Beweging se Kampustrust ‘n belegging van etlike miljoene rande in Akademia.”