Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia open nuwe kampus, versnellingsplan

Gepubliseer op: 2 Maart 2016

“Ons Afrikaanse gemeenskap kan bou, ons het dit al vantevore gedoen en ons kan dit weer doen.”

In vrolike samesyn en te midde van groot mediabelangstelling is Akademia se nuwe kampus in Centurion onlangs ingewy en ‘n versnelde ontwikkelingsplan bekendgemaak. Onder die 130 gaste wat op 26 Februarie glasies geklink het tel verteenwoordigers uit vele van die vernaamste Afrikaanse organisasies.

Ingevolge die versnelde ontwikkelingsplan beoog Akademia om volgende jaar meer as 700 studente te hê, sy studiesentrums landswyd van 7 na 15 uit te brei en ‘n omvattende fondswerwingsveldtog te begin. Teen 2020, sê Piet le Roux, Akademiese Hoof by Akademia, beoog Akademia om sowat 2000 studente te hê en dalk selfs ook die eerste stappe na ‘n op-kampus studiemodel, naas die bestaande interaktiewe videotegnologielesings aan te bied.

Gasspreker Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het onder luide applous gesê dat Akademia “skeppende vernuwing op grond van beproefde waardes” verteenwoordig. Buys het gesê die Solidariteit Beweging het reeds meer as R50 miljoen in die ideaal van “‘n privaat Afrikaanse universiteit” belê. Buys het benadruk dat Akademia ‘n gemeenskapsprojek is. “Ons Afrikaanse gemeenskap kan bou, ons het dit al vantevore gedoen en ons kan dit weer doen.”

Klipstapeling

Buys was eerste om ‘n klip te werp in ‘n spesiale monument waarmee teenwoordiges hul betrokkenheid by die oprigting van ‘n kampus vir Akademia kon demonstreer. Ander deelnemers aan die kliplegging was dr. Dione Prinsloo namens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, dr. Chris Klopper namens die SAOU, Jannie Earle namens die Afrikaanse Taalraad, Mercia Eksteen namens die ATKV. Ook die Virseker Trust, die FAK en verskeie ander had deel aan die amptelike verrigtinge.

Le Roux het Buys bedank vir sy visie om tien jaar gelede reeds met die ondersoeke na private universiteite te begin, sodat Akademia vanjaar sy vyfde akademiese jaar kon begin. “Alle universiteite het klein begin. Alle universiteite het eenmaal hul eerste gebou gehad. Alle universiteite was eenmaal vyf jaar oud. Ons is deeglik bewus van die grootte van die uitdaging en ons sien kans daarvoor.”

Ook by die geleentheid het Akademia ‘n tjek van meer as R9 miljoen van die Afrikaanse korttermynversekeraar, Virseker, in ontvangs geneem.

As deel van die verrigtinge kon gaste ‘n toer van Akademia en sy splinternuwe hoëtegnologiefasiliteite, onder begeleiding van Akademia se personeel, onderneem. Akademia het die perseel in Januarie betrek, nadat dit verlede jaar met die ondersteuning van die Solidariteit Beweging aangeskaf en ingerig is.