Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia ken eerste Futurum-toekenning toe

Gepubliseer op: 16 April 2019

Akademia het op 12 April 2019 haar eerste prestige-aand gehou. Hierdie spoggeleentheid het ten doel om uitnemendheid in studente en dosente by Akademia te inspireer en om erkenning aan top-presterende studente en akademici te gee. Tydens vanjaar se geleentheid het Akademia ook haar eerste Futurum-toekenning aangewys.

Die toekenning se naam spruit uit Akademia se leuse, ad futurum per fontes. Hierdie leuse – wat losweg as “na die toekoms, deur die bronne” vertaal kan word – dui daarop dat Akademia deur haar aansluiting by klassieke bronne ook toekomsgerig is. Hierdie dinamiese toekomsgerigtheid dra dan ook die besondere betekenis van ʼn ywer vir lewenslange leer.

Die Futurum-toekenning vir 2019 is oorhandig aan dr. Zhan Goosen, ʼn dosent in die Gevorderde Diploma in Projekbestuur, vir haar behaling van ʼn doktorsgraad in Stads- en Streekbeplanning. Haar proefskrif fokus op die implementering van derdeplekruimtes in stedelike gebiede. Haar mees onlangse gepubliseerde werk is die artikel “Derdeplekke vir sosiale volhoubaarheid: ʼn Beplanningsraamwerk”, wat in die Internasionale Tydskrif vir Siviele Ingenieurswese en Stadsbeplanning verskyn het. In 2018 ontvang sy ʼn toekenning vir die beste referaat gelewer by die 20ste Internasionale Konferensie oor Volhoubare en Strategiese Stadsbeplanning in Singapoer, aangebied deur die Internasionale Sentrum vir Vestiging van Beleggingsgeskille (ICSID).

By Akademia ondersteun die belangrike werk van navorsing die ewe belangrike werk van dosering. Deur die vestiging van die Futurum-toekenning beklemtoon Akademia haar ondersteuning tot lewenslange leer en strewe na ononderbroke akademiese uitnemendheid.

Dr. Zhan Goosen ontvang die Futurum-toekenning tydens Akademia se prestige-aand wat op 12 April 2019 gehou is. Hierdie toekenning vereer dosente vir uitnemende doktorale studies.