Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia ondersteun SOS in onderwyseropleiding

Gepubliseer op: 16 April 2019

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) bied professionele ondersteuning vir rekeningkunde onderwysers wat vir leerlinge in Graad 8 en 9 skoolhou. Nicolene Steenkamp en Berrie Stoop, rekenmeesters en dosente in hierdie vakgebied by Akademia, fasiliteer hierdie opleidingsessies in die vorm van middagseminare.

Hierdie opknap- en verfrissessies het ten doel om onderwysers met die jongste rekeningkundige onderbou toe te rus, soos deur die Departement van Basiese Onderwys se Nasionale Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring voorgeskryf. Daarmee saam is die aanbieders se ywer en liefde vir rekeningkundige wetenskappe ook aansteeklik genoeg om kursusgangers met ʼn herontdekte passie vir hierdie vakgebied te laat. Akademiese teorie en die praktyk word bymekaargebring deur onderwerpe te behandel soos die belang van rekeningkunde, die behandeling van rekeningkundige terminologieverskille en hoe rekeningkunde vandag in die praktyk gebruik word. Gevallestudies word ook betrek om te verseker dat die opleiding bedryfsrelevant is.

Daar was reeds twee suksesvolle opleidingsessies, met die volgende een wat op 6 Mei vanaf 15:00 tot 16:30 in Centurion plaasvind. Lede van die SOS-vakvereniging kan hierdie seminare gratis bywoon, terwyl die kostes vir nie-lede R250 per sessie beloop. Daar sal ook later vanjaar rekeningkunde-opleiding vir Graad 10 tot 12 aangebied word by die SOS Kongres vanaf 12 tot 13 Junie by Saint George’s Hotel in Centurion. Besoek die SOS-webblad vir meer inligting.