Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia bied Kollokwium: Politieke Wetenskap aan

Gepubliseer op: 13 Mei 2019

Op Vrydag 10 Mei 2019 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) se derde jaarlikse Kollokwium: Politieke Wetenskap plaasgevind. Vanjaar is hierdie toonaangewende akademiese gespreksgeleentheid deur Akademia, met die steun van die SAAWK, by dié instelling se ouditorium in Centurion aangebied. Gerekende akademici wat al vir dekades die vakgebied uitbou het insiggewende referate gelewer oor voltooide, lopende of beplande navorsing in die toenemend relevante dissipline van politieke wetenskap.

Die kollokwium het op die breë veld van Politieke Wetenskap gefokus, waar dosente, navorsers en studente in hierdie veld aan vakkundige gesprekke in Afrikaans deelgeneem het. Van die paneelbesprekings en aanbiedings het onder andere gehandel oor die toekoms van Afrika in die globale politieke ekonomie, die Suid-Afrikaanse politieke problematiek, en die impak van binnelandse aangeleenthede op buitelandse beleid.

Dit is uiters gepas vir Akademia om vanjaar die kollokwium aan te bied, aangesien die instelling onlangs haar programaanbod uitgebrei het met die bekendstelling van haar eerste graadkwalifikasie in die geesteswetenskappe. Dié kwalifikasie, BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie), verwelkom sedert vanjaar studente onder leiding van die nuutaangestelde Geesteswetenskappe-dekaan, prof. Pieter Duvenage, wat vroeër as departementshoof van filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat verbonde was.

“Akademia is bevoorreg om die kollokwium saam met invloedryke vennote aan te bied en ʼn bydrae te kan lewer om die Politieke Wetenskap- en Geesteswetenskappe-vaktaal in Afrikaans te bewaar en uit te bou,” sê Alida Kok, organiseerder van die kollokwium en programkoördineer van BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie) by Akademia.

In 2017 is die eerste Kollokwium: Politieke Wetenskap by Noordwes-Universiteit aangebied, en in 2018 by die SAAWK self. Om die kollokwium vanjaar in samewerking aan te bied was vir Akademia en die SAAWK ʼn natuurlike besluit, aangesien beide instellings ʼn gemeenskaplike doel voor oë het – om Afrikaans as instrument te gebruik om die wetenskappe en Afrikaans as wetenskapstaal te bevorder.

Hierdie kollokwium is ʼn bewys van die manier waarop Afrikaanssprekende akademici – deur die generasies heen – as hegte akademiese gemeenskap die bestudering van hulle vakgebied op die hande dra. “Akademia hoop om jaarliks met die aanbieding van die kollokwium en met ons groeiende Politieke Wetenskap- en Geesteswetenskappe-aanbiedings by te dra tot die tradisie van die bestudering van politiek en internasionale verhoudinge in Afrikaans,” voeg Kok by.