Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-kwalifikasieplegtigheid: ʼn Viering van groei en akademiese uitnemendheid

Gepubliseer op: 11 April 2024

Akademia se kwalifikasieplegtigheid is in wese ʼn simboliese erkenning van ʼn nuwe geslag denkleiers, praktykkundiges, kunstenaars, wetenskaplikes en entrepreneurs. Kortom: ʼn geleentheid waar die doeners van more na vore tree om hul regmatige plek as rentmeesters van volhoubaarheid, innovasie en vooruitgang in te neem.

Só meen Liana van Rooy, registrateur by Akademia, ná afloop van die instelling se twaalfde kwalifikasieplegtigheid wat op Donderdag 11 April 2024 by die Choose Life-kerk in Pretoria plaasgevind het. Tydens hierdie geleentheid is ʼn rekordgetal van 464 kwalifikasies, waarvan 84 nagraadse kwalifikasies is, oor sewentien programme toegeken.

ʼn Hoogtepunt van vanjaar se plegtigheid was die eerste aflewering van studente in die volgende programme: BA (Kommunikasie en Joernalistiek), BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde), BComHons (Ondernemingsbestuur), BSc (Wiskundige Wetenskappe) en LLB.

Die ander programme wat studente afgelewer het is:

Volgens Van Rooy is die jaarlikse kwalifikasieplegtigheid nie net ʼn simboliese viering van akademiese uitnemendheid nie, maar ook ʼn weerspieëling van die groei wat so tekenend van die instelling is. “Akademia is in ʼn bevoorregte posisie om vanjaar nie net ʼn rekordgetal afgestudeerde studente te lewer nie, maar ook – in vergeleke met verlede jaar se plegtigheid, kwalifikasies in ʼn addisionele vyf programme te kan toeken,” verduidelik Van Rooy.

Die tema van groei en vernuwing is dan ook volgens Van Rooy ʼn integrale deel van die gees waarin die plegtigheid plaasvind. Sy sê dat afgestudeerde studente voortaan in hul hoedanigheid as Akademia-alumni en -ambassadeurs ʼn roepingsgedrewe bydrae kan lewer, nie net in hul onderskeie gemeenskappe nie, maar ook in die beroepswêreld.

As gewaardeerde alumni kan afgestudeerde studente ʼn waardevolle ondersteuningsrol speel in terme van huidige en toekomstige Fonties. Van Rooy verduidelik dat alumnibetrokkenheid in die vorm van beurse, mentorskap, internskappe en loopbaanadvies ʼn beduidende impak op studentesukses het. Hierbenewens bied die alumnigemeenskap verskeie opwindende netwerk- en loopbaangeleenthede aan lede terwyl dit ook samewerking en sakevennootskappe fasiliteer.

“Danksy die impak en betrokkenheid van ons alumni gedy daar voorts ʼn aktiewe en wedersydse wisselwerking tussen Akademia en die gemeenskap, ʼn verbondenheid wat ten sterkste tot die instelling se bestaansrede spreek,” sê Van Rooy.

Professor Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie, sluit hierby aan deur te sê dat hoëronderwysinstellings, anders as enige ander instelling, die mens en sy gemeenskap verbind deur hoërordefunksies soos opleiding en vorming. In die lig hiervan ontleen die kwalifikasieplegtigheid prestige aan Akademia se verbondenheidsopdrag – en in besonder die feit dat die instelling homself tot voortreflike opleiding en vorming sowel as akademiese uitnemendheid verbind. “Ons hartlike geluk aan elkeen wat tydens vanjaar se plegtigheid ʼn kwalifikasie verwerf het, dit bly ʼn groot ervaring en ʼn besonderse prestasie,” sluit Goosen af.

Tydens Akademia se jaarlikse kwalifikasieplegtigheid is ʼn rekordgetal van 464 kwalifikasies, waarvan 84 nagraadse kwalifikasies is, oor sewentien programme toegeken.
Die jaarlikse kwalifikasieplegtigheid is nie net ʼn viering van akademiese uitnemendheid nie, maar ook van die groei wat Akademia geniet.
Afgestudeerde studente sal in hul hoedanigheid as Akademia-alumni en -ambassadeurs ʼn roepingsgedrewe bydrae kan lewer, nie net in hul onderskeie gemeenskappe nie, maar ook in die beroepswêreld.