Search
Close this search box.

Akademia-konferensie bespreek uitwerking van nuwe energiebelange op die Suid-Afrikaanse staat

Die Departement Sosiale Wetenskappe by Akademia het op Woensdag 29 Maart ʼn konferensie by Leriba in Centurion gehou. Die konferensie het gehandel oor die uitwerking van nuwe energiebelange op die desentralisering en sentralisering van politieke mag in Suid-Afrika. Akademici van Noordwes-Universiteit, die Universiteit van Suid-Afrika, die Universiteit van die Vrystaat en Akademia het aanbiedings oor die tema gelewer en deelnemers aan die konferensie het besluitnemers uit die burgerlike samelewing en private energiesektor ingesluit.

Prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia, het die dag se verrigtinge geopen deur alle gaste en sprekers te verwelkom. “Die konferensie is van kardinale belang omdat dit ons akademie, navorsing, gemeenskapsverantwoordelikheid en vormingsideaal bymekaar bring wat baie opwindend is.”

Alida Kok, departementshoof van Sosiale Wetenskappe by Akademia, het die dag ingelei. “Hierdie konferensie dien as geleentheid om deur die lens van die Sosiale Wetenskappe oor die impak van energiebelange midde-in die verval van die Suid-Afrikaanse staat en die opkoms van gemeenskapsoutonomie te besin.” Sy het verder gesê dat die tema ʼn belangrike langtermyngesprek bied vir die gemeenskap.

Die eerste spreker vir die dag was dr. Heinrich Matthee, bekleër van die ereleerstoel in veiligheidstudies by Akademia. Hy het ʼn aanbieding gelewer oor veelgroei, polikrisis en geopolitieke grondverskuiwings en wat dit vir Suid-Afrika en Europa beteken. “In Europa sien ons die drie prosesse wat saam loop. Polikrisis beteken dat daar net soveel krisisse is as in die verlede, maar dat die krisisse nou met mekaar in werking tree. Omdat ons in Afrika is, is ons meer gehard in ons leierskap om hierdie krisisse te hanteer as in Europa,” het hy gesê. “Suid-Afrika beleef natuurlik ʼn energiekrisis soos nêrens anders in die Weste nie, maar juis daarom kom daar baie innovasie wat energie in Suid-Afrika betref. Daar wag ʼn opwindende tyd vir ons wat dit betref.”

Dr. Eben Coetzee, ʼn senior lektor in die Universiteit van die Vrystaat se Departement Politieke Studie en Regeerkunde, het ʼn aanbieding gelewer oor die geopolitieke spel oor kernenergie in Afrika. “Toegang tot skoon, energievriendelike en betroubare energie, soos kernkrag, is sentraal tot die oorlewing en welvaart van elke land. Afrika-lande wil toenemend kernkrag betree, maar die vraag bly staan watter geopolitieke invloed uitgeoefen gaan word.”

Prof. Jo-Ansie van Wyk, ʼn hoogleraar in Internasionale Politiek wat verbonde is aan die Departement Politieke Wetenskappe by die Universiteit van Suid-Afrika, het haar navorsing oor energiepolitiek in die Noord-Kaap aangebied. “Ons land is nie in staat om energie te produseer, te verskaf en by almal uit te bring nie. Die kabinet gee egter aandag aan energiebelange in Suid-Afrika. Vier uit elf van SA se hernubare-energieontwikkelingsones is in die Noord-Kaap. Die energiepolitiek in hierdie gebied is dus histories van belang,” het Van Wyk genoem. “Daar gebeur goed op ʼn politieke vlak wat wys dat daar ʼn magspel aan die gang is wat die nasionalisering van energie veroorsaak. Ons weet egter ook dat daar teenwigte is om te desentraliseer. Wanneer mens na die Noord-Kaap met min water, ʼn lae bevolking en ver afstande kyk, is dit interessant wat op gemeenskapvlak gebeur. Die boere boer ook nou met son en wind.”

Dr. Pieter Heydenrych, ʼn senior lektor van die departement Owerheidstudies by die Noordwes-Universiteit, het die mislukking van Eskom, die Suid-Afrikaanse regering en die Suid-Afrikaanse staat bespreek. “Daar bestaan geen onsekerheid oor die ineenstoring van die staatsmaatskappy, Eskom, nie. Die gesentraliseerde verskaffing van die dryfkrag van die moderne wêreld sedert die vroeë 20ste eeu, elektrisiteit, is nou in ʼn staat van beleg in Suid-Afrika,” het Heydenrych gesê. “Sonder elektrisiteit kan die moderne lewe nie voortduur en ontwikkel nie. Dit is uiteindelik die nalatenskap van die regerende party in Suid-Afrika.”

Die bekleër van die NP van Wyk Louw-ereleerstoel in kultuurstudies by Akademia, Carel Boshoff, het tydens sy aanbieding ʼn argument oor beurtkrag en die onvoltooide rewolusie in Suid-Afrika voorgehou. “Dit is duidelik dat bekostigbare en betroubare kraglewering die lewensaar en hoofskakelaar van ʼn land is. As iemand die hoofskakelaar afsit, kan die land nie funksioneer nie. Staatsverval gee die hoop en vooruitsig op ʼn ontbondeling van die Suid-Afrikaanse ryk. Ons moet ʼn gesamentlike kulturele en ekonomiese strategie ontwikkel om ons voortbestaan te beoefen wat energieonafhanklikheid, opleiding, en meer behels om ons belange te beskerm.”

Die finale spreker van die dag was Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum. Die tema van sy toespraak het gehandel oor gemeenskapskrag wat gemeenskapsfederalisme kan ontsluit. “Gemeenskapskrag gee vir my hoop vir die toekoms. Ons kan hierdie krag gebruik om die kragkrisis op te los maar ook om ons gemeenskappe sterk en selfstandig te maak. Ons moet begin beweeg na die desentralisering van kragvoorsiening,” het Kriel ter afsluiting gesê. “As ons kyk na die desentralisering van die kragnetwerk, kyk ons ook na gemeenskapsfederalisme. Dit behels wanneer gemeenskappe besluitnemingsmag op verskillende vlakke self toe-eien deur ʼn ‘ons sal self’-ingesteldheid en eie instellings. Dus wanneer die staat verswak tree gemeenskappe toe.”

Akademia het op Woensdag 29 Maart ʼn konferensie in die Departement Sosiale Wetenskappe aangebied. Die sprekers was dr. Heinrich Matthee, dr. Eben Coetzee, prof. Jo-Ansie van Wyk, dr. Pieter Heydenrych, Carel Boshoff en Kallie Kriel. Prof. Pieter Duvenage (dekaan: Geesteswetenskappe, Akademia) en Alida Kok (departementshoof: Sosiale Wetenskappe, Akademia) het onderskeidelik die verwelkoming en inleiding hanteer.