Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Gerekende SAIMS-konferensie vanjaar by Akademia aangebied

Die Suider-Afrikaanse Instituut vir Bestuurswetenskaplikes (SAIBW; in Engels SAIMS) bied vanjaar vir die 34ste keer hulle jaarlikse konferensie aan. Dit vind vanjaar vir die eerste keer in samewerking met Akademia plaas. Dié konferensie sal by Leriba se konferensiefasiliteite in Centurion vanaf 10 tot 13 September plaasvind.

SAIMS is in 1988 gestig met die doel om die belange van bestuurswetenskaplikes in Suider-Afrika te bevorder en ook om as ʼn forum te dien om bestuursopvoeding en -navorsing te bespreek.

Die rol van SAIMS is ook om navorsing te bevorder deur die insameling en proses van relevante inligting in die bestuursveld te fasiliteer. Die rol van die instelling is verder om hierdie inligting beskikbaar te stel deur middel van publikasies, ʼn jaarlikse konferensie en om interaksie tussen plaaslike en internasionale bestuurswetenskaplikes te bewerkstellig.

Konferensiedeelnemers is hoofsaaklik bestuurswetenskaplikes van Suid-Afrika se hoëronderwysinstellings aangesien SAIMS gereken word as ʼn sterk akademiese kongres met ʼn fokus op die verbetering en uitbreiding van bestuur as ʼn wetenskap. Daar word ook vanjaar daarop gefokus om meer mense by die konferensie te betrek wat in die bestuurswetenskappe-industrie werk. Enigeen met ʼn passie vir bestuurswetenskap is egter welkom om die konferensie by te woon.

Wat vanjaar se konferensie uniek maak, is die feit dat dit vir die eerste keer by ʼn privaat instelling aangebied word en dit is ook die eerste keer dat werkwinkels deel vorm van die konferensie se program.

Deelnemers van vanjaar se konferensie kan ʼn dinamiese en insiggewende program verwag met sprekers vanuit die akademie en industrie. Deelnemers kan ook heerlike kos, fantastiese netwerkgeleenthede en ʼn kulturele besoek aan King Price verwag. Een van die sprekers by vanjaar se konferensie is Boshoff Grobler, voormalige hoof- uitvoerende beampte van Ashburton Beleggingsbestuur.

Volgens Salomien Boshoff, koördineerder van die SAIMS-konferensie en dosent in Ondernemingsbestuur by Akademia, sal deelnemers aan die konferensie toegerus word met die kennis en vaardighede om ʼn beter toekoms in bestuurswetenskap te bevorder.

Vanjaar se tema is Management Potential P3: Possibilities, Pioneering and Progress. Die tema pas pragtig aan by die gasinstelling, Akademia, se waardes wat pionierskap insluit.

Boshoff noem dat potensiaal soos ʼn kosbare metaal is en dat mens diep moet delf om hierdie potensiaal te ontsluit. “Bestuurspotensiaal is ʼn uitdaging wat ons vir ons bestuurswetenskaplikes in 2023 wil stel. Die besigheidswêreld beweeg vinnig en ons moet ons pionier-idees met mekaar deel om vooruitgang in ons bedryf te verseker,” sluit Boshoff af.

Dr. Rachel Maritz, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe by Akademia, sê dat die instelling opgewonde is om vanjaar se SAIMS-konferensie te huisves aangesien die konferensie belyn is met Akademia se waardes en benadering tot opleiding. “Akademia streef daarna om navorsing en dosering met mekaar te verweef en dit word prakties by die SAIMS-konferensie só uitgevoer. Uitstaande akademici van oor die land heen tree toe tot die akademiese gesprek deur hul navorsing by die konferensie aan ander voor te lê,” sluit sy af.

Indien jy belangstel om die SAIMS-konferensie by te woon of om ʼn voorlegging by die konferensie te lewer, besoek gerus die webblad hier.

Die SAIMS-konferensie word vanjaar saam met Akademia aangebied vanaf 10-13 September in Centurion.