Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Dink buite jou boks

Geskryf deur Lizán Maree, bestuurder: Studentewerwing by Akademia

Kreatiwiteit in die werksplek is ʼn groeiende tendens wat oor die hele wêreld ʼn groot impak op besigheid en navorsing het. Volgens kundiges sal die Vyfde Nywerheidsrewolusie ruimte laat vir werknemers om te fokus op kreatiwiteit sowel as ander mensgesentreerde vermoëns soos analitiese en kritiese denke, komplekse probleemoplossing en besluitneming, emosionele intelligensie, leierskap en invloed.

Een van die grootste uitdagings in die huidige besigheidsomgewing is om nuwe en innoverende oplossings vir probleme te vind. Kreatiwiteit word gesien as die sleutel om hierdie uitdagings aan te pak en suksesvolle besighede te bou. Dit beteken dat werknemers met ʼn sterk kreatiewe gees in staat sal wees om hulself te onderskei in die arbeidsmark en suksesvolle loopbane te bou. Die grootste hindernis is egter dat die meeste mense dink kreatiwiteit beteken jy moet mooi kan sing of teken, en dat die afwesigheid van hierdie talente beteken jy is nie kreatief nie.

Die goeie nuus is dat kreatiwiteit aangeleer en geoefen kan word. Wanneer werknemers die vermoë aanleer om buite die tradisionele raamwerk te dink, kan idees gevind word wat ander nie kon vind nie. Kreatiwiteit help ook dat probleme op ʼn unieke wyse aangepak word, wat kan lei tot ʼn strategiese voordeel in die mark – beide vir die werknemer en die werksplek. Werknemers kan ook kreatiwiteit gebruik om die manier waarop hulle hul werk benader te verbeter. Deur nuwe idees en perspektiewe te gebruik, kan hulle hul effektiwiteit en doeltreffendheid verbeter en hul loopbaanontwikkeling versnel.

Kreatiwiteit kan in die werksplek op verskeie maniere geoefen of verbeter word. Hier is ʼn paar voorbeelde:

  • Skakel jou brein af van alledaagse gedagtes en bevorder kreatiewe denke deur ʼn rustige of stiltetyd vir jouself te skep. Dikwels kom die beste idees juis wanneer mens nie doelbewus oor ʼn probleem dink nie.
  • Moedig jou werknemers of kollegas aan om saam te werk en idees te deel. Hierdie samewerking kan kreatiewe denke aanmoedig en innoverende planne tot gevolg hê.
  • Voorsien fasiliteringsessies wat geleentheid en ʼn veilige ruimte bied vir werknemers om idees uit te ruil en te ontwikkel. Moedig die kritiese beoordeling van hierdie idees op ʼn objektiewe wyse aan, sodat daar op mekaar se idees gebou kan word.
  • Moenie bang wees vir “foute” of “simpel idees” nie. Dit is dikwels juis hieruit wat die beste idees ontwikkel.
  • Skep ʼn kreatiewe ruimte of area waar jy kan werk. As daar nie geleentheid is om ʼn nuwe ruimte te skep nie, probeer net jou huidige ruimte meer kreatief inrig of vind ʼn plek buite jou kantoor waar jy kreatief kan dink soos ʼn koffiewinkel, saamwerkruimte of selfs ʼn biblioteek.

ʼn Stelling wat baie algemeen gebruik word wanneer daar oor kreatiwiteit gepraat word, “dink buite die boks”. Navorsing deur Ned Herrmann en Kobus Neethling op die gebied van kreatiwiteit dui egter daarop dat elke persoon se denkvoorkeure verskil, en dus lyk elkeen se “boks” in der waarheid anders. Die geheim van kreatiwiteit kom dus daarby in om jou eie denkvoorkeure te verstaan, en te leer hoe om van heelbreindenke gebruik te maak wanneer jy uitdagings benader. As jy meer wil weet oor hoe om jou kreatiwiteit te ontsluit deur jou denkvoorkeure te verstaan, kontak my gerus by lizan@akademia.ac.za.

Lizán Maree is die passievolle bestuurder van Studentewerwing by Akademia.